Local newsNews

Visse en voëls: Het Pollie ’n permit nodig?

“Wanneer daar handel gedryf word met voëls, is dit ook belangrik om seker te maak wat wetgewing bepaal wat betref die vervoer-, invoer- en uitvoer van spesies.”

Geveerde vriende in die huis kan genot verskaf, maar voëlliefhebbers moet bewus wees daarvan dat sekere spesies slegs aangehou mag word indien permitte daarvoor bekom is.

Kobus Pienaar van die departement van omgewingsake in Modimolle (Ledet) het aan Die Pos gesê wetgewing in Limpopo bepaal dat permitte vir die aanhou van alle Suid-Afrikaanse inheemse voëls be-
nodig word.

“Wanneer daar handel gedryf word met voëls, is dit ook belangrik om seker te maak wat wetgewing bepaal wat betref die vervoer-, invoer- en uitvoer van spesies.”

Spesies soos die gryspapegaai (African Grey) wat in die meeste troeteldierwinkels aangetref word, is nie ’n inheemse voëlsoort van Suid-Afrika nie, maar is van sentraal Afrika afkomstig.

Mense wat ’n gryspapegaai, of enige eksotiese voëlspesie aanhou, hoef ingevolge wetgewing nie ’n permit te hê nie, het Pienaar gesê. Die verkoper moet egter in besit wees van ’n handelspermit.

Luidens die nasionale uitheemse indringerspesies-raamwerk, wat onder die nasionale wet op biodiversiteit vir omgewingsbestuur gepubliseer is, bestaan daar ook ’n lys van uitheemse voëls waarvoor aanhoupermitte verlang word.

“Hierdie voëls word as indringers, en dus skadelik vir ons inheemse voëls, beskou en die permitte kan slegs by die nasionale departement se bio-veiligheidsafdeling bekom word. ’n Voorbeeld hiervan is die Indiese spreeu (Indian Mynah),” het Pienaar gesê.

Hy het voorts gesê voëltelers moet as CITES-telers (Die Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora) geregistreer word indien hulle voëls wil uitvoer.

Indien kopers of verkopers nie oor die nodige permitte beskik nie, sal hul vere geknip word met regstappe en kan ’n groot boete of selfs tronkstraf opgelê word, afhangende van die spesie waarmee handel gedryf word, het Pienaar gesê.

Mense wat meer inligting wil bekom, kan die Ledet-kantoor skakel by tel. (014) 717 3567 of die departement se webtuiste by www.environment.gov.za besoek.

Related Articles

Back to top button