Local newsNews

Visse en voëls: Pak dié stokperdjie reg aan

Die staaltjie van ’n ouer wat gou ’n dooie goudvis met ’n nuwe een omruil voordat die kinders terug van die skool is, is baie bekend.

Ook die moedeloosheid omdat dié stokperdjie wat so oulik gelyk het, so moeilik blyk te wees.

Om ’n vistenk suksesvol in stand te hou, is soos ’n klein wetenskapeksperiment wat baie genot verskaf wanneer dit werk. As ’n mens eers ’n paar basiese beginsels onder die knie het, vlot dit maklik. Goeie raad is danksy Facebookgroepe en Google byderhand vir nuwelinge.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Een van die foute wat beginners maak, is dat hul eerste vistenks heeltemal te klein is. Hoe kleiner die tenk is, hoe moeiliker is dit om te onderhou en dit kan ’n nuweling gou onderkry. Hoe meer water in die tenk is, hoe meer stabiel is die watertoestande. Maak ook seker dat die filter groot genoeg is en die tenk se water minstens vier keer per uur kan filtreer. Hoe meer visse in ’n tenk is, hoe meer moet dit gefiltreer word.

Dit is ook nie ’n goeie plan om ’n nuwe vistenk én visse op een dag te koop nie. Die waterbalans en goeie bakterieë moet eers in die tenk gevestig word voordat visse bygevoeg word, anders lei dit tot vrektes. Dit neem ’n paar dae tot ’n paar weke. Daar is chemikalië wat die proses kan bespoedig. ’n Toetsstelletjie om die ammonium- en nitrietvlakke te toets kan help om ’n aanduiding van die watergehalte te gee. Sodra die watervlakke korrek is, kan nuwe visse geleidelik bygevoeg word. Te veel nuwe inwoners op een slag kan giftige ammonium en nitrietvlakke veroorsaak.

Elke ete kan nie ’n groot Sondag-buffetete wees nie. Dit geld ook vir visse. Hulle sal sonder om te blik of te bloos aanhou bedel vir kos, selfs al was die ete genoeg. Kenners se raad is dat visse in ’n nuwe tenk net een keer per dag kos kry en alles binne twee na vier minute opgeeët moet word.

Te veel visse in ’n tenk moet liefs vermy word. Visse kan aggressief raak as hul tenks beknop is. Dit is ook moeiliker om ideale watertoestande te handhaaf.

Wanneer ’n vistenk te veel lig kry, kan alge dit blitsvinnig oorneem. Hou die tenk uit sonlig en beperk die hoeveelheid ure wat die tenk se liggie aan is. ’n Tydskakelaar kom hier handig te pas.

Wanneer dit tyd is om die tenk skoon te maak, moenie oorgretig wees nie. Dit kan daardie biologiese balans wat jy aan die begin so hard probeer vestig het, vernietig.

Kenners se raad is om elke week 10% tot 15% van die water in die tenk met nuwe water te vervang, of 25% elke twee weke.

Dié waterruiling help om opgeboude chemikalieë te verwyder. Indien jy kraanwater gebruik, gebruik spesiale druppels om die chloor te neutraliseer. Bronne: www.fishkeepingworld.com, www.aqueon.com(.)


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button