Local newsNews

Hoërskool sluit nadat leerder positief toets

Hoërskool Warmbad het op Maandag 6 Julie die skoolhekke toegetrek nadat ’n gr.12-leerder positief getoets het vir die koronavirus (Covid-19).

Die skool het sedert die begin van Junie, voor die amptelike terugkeerdatum vir matriekleerders, uiters streng maatreëls toegepas om die veiligheid van hul leerders en personeel te verseker.
Gr.11-leerders sou na verwagting op Maandag 6 Julie landwyd saam met die gr. R en gr. 6-leerders hul skooljaar ná die grendeltyd hervat het, maar is op kort kennisgewing ingelig dat hulle eers aanstaande Maandag 13 Julie kan terugkeer.

Hoewel die skoolbestuur streng veiligheidsmaatreëls toepas, is hulle bekommerd daaroor dat hulle geen beheer het oor leerders se veiligheid wanneer hulle die skoolterrein verlaat nie.

Paul Liddle, skoolhoof, het aan Die Pos gesê die betrokke leerder is reeds op Donderdag 2 Julie huis toe gestuur om homself af te sonder nadat hy simptome van die virus getoon het.

Die skool het op Saterdag 4 Julie die leerder se toetsuitslae ontvang wat bevestig het dat hy die virus onder lede het. Die leerder het in die skool se koshuis tuisgegaan.

“Die skool en die koshuis is die afgelope Sondag deur die span van SuperSpar Bela-Bela gesteriliseer en verteenwoordigers van die departement van gesondheid het die skool op Maandag 6 Julie besoek. Die beheerliggaam het besluit om die skool vir die res van die week te sluit,” het hy gesê.

Mense wat met die leerder in kontak was, is ook aangeraai om getoets te word.

Liddle het voorts gesê hulle beoog om nie in die toekoms weer die skool te sluit wanneer iemand postief getoets word nie, maar om die pasiënt te laat isoleer en slegs die klasse en grade wat direk betrokke was, volgens die voorskrifmaatreëls te hanteer.

  • Die dringendheid van water by skole is die afgelope week weer in die parlement aangespreek nadat Desirée van der Walt, DA-LP, vrae aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, oor die onderwerp gestel het.Die beskikbaarheid van water speel ’n groot rol in die bekamping van Covid-19.

    Die antwoorde is aan Die Pos beskikbaar gestel. Altesame 3 475 skole landwyd beleef tans nog ’n agterstand met watervoorsiening, waarvan een die Vingerkraal Primary School buite Bela-Bela is. Die departement hoop om die infrastruktuur gereed te hê wanneer die meeste leerders na verwagting in Augustus sal terugkeer skool toe.

    Die huidige noodwatervoorsieningsprogram word in samewerking met Rand Water gedoen en volgens Motshekga sal nog 3 335 skole baat by die projek vind.

    In antwoord op Van der Walt se vraag het sy gesê skole in die Oos-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes het reeds watertenks ontvang, maar meer tenks moet nog geïnstalleer word.

Related Articles

Back to top button