Local newsNews

So werk Kansa in die Waterberg nou

“Kansa gebruik tegnologie om ons daaglikse bedrywighede te ondersteun en koste te verlaag terwyl ons steeds daarna streef om ’n puik diens te lewer.”

Kansa se kantore in Modimolle het verskuif, maar hul dienste gaan soos voorheen voort.

Die vereniging het aangekondig dat Ansie van Heerden vanaf Junie net vanuit ’n kleiner kantoor sal werk, maar steeds dieselfde dienste aan die gemeenskap sal bied. Dié stap is geneem as deel van ’n onlangse proses om die organisasie te verbeter en meer vaartbelyn te maak.

“Kansa gebruik tegnologie om ons daaglikse bedrywighede te ondersteun en koste te verlaag terwyl ons steeds daarna streef om ’n puik diens te lewer. Juis daarom is ons besig om oor te skakel na ’n virtueelondersteunende stelsel in die Waterberg-gebied wat onder Kansa se Pretoria-streekkantoor val. Ek wil graag die gemeenskap verseker dat Kansa se personeel en vrywilligers hulself steeds verbind om sorg en ondersteuning te bied aan diegene wat deur kanker geraak word,” het Elize Joubert, Kansa se hoof- uitvoerende beampte, gesê.

Belangrike dienste sal nie deur die veranderinge geraak word nie. Dit sluit kankersifting, stomadienste, die huur van mediese toestelle en Kansa-sorgtuistes in.

Wilna van den Heever sal deeltydse Kansa-dienste vanuit ’n privaat kliniek in Booysenstraat 14 in Modimolle lewer. Alle siftingstoetse soos bloedtoetse vir prostaatgesondheid, papsmere, borsondersoeke en velontledings met die FotoFinder-masjien sal op afspraak by dié kliniek gedoen kan word. Mediese toerusting soos rolstoele sal ook daar gehuur kan word.

Vrywilligers sal steeds betrokke wees by fondsinsamelingsprojekte en dienslewering.

“Ons is bewus van ons plig om Suid-Afrikaners aan te hou inlig en opvoed oor kanker en juis daarom vind ons innoverende maniere om die kankerrisiko te help verlaag en terselfdertyd ondersteuning en sorg te bied. Finansiële volhoubaarheid bly ’n uitdaging vir alle ondernemings, maar ons sien uit daarna om die publiek te ondersteun en te help om uitdagings te oorkom,” het Joubert gesê.

Vir meer inligting bel vir Wilna van den Heever by tel. 082 493 1884 of vir Ansie van Heerden by tel. 076 409 4444.

Related Articles

Back to top button