Local sportSport

Virtuele pretlope hou dié twee aan die gang

“Jy voel jy is deel van die opwinding met die voorbereiding, die wegspring en die einde.”

Hoe gemaak wanneer jy weens die grendeltyd nie meer aan jou gunstelingtydverdryf mag deelneem nie?

Maklik: Bring die werklikheid na jou toe.

Pretlope of pretdrafgeleenthede is gewoonlik ’n baie soisale geleentheid, maar streng Covid-19-maatreëls het ook dié sport swaar getref.

 

Jean Bester en Michell Loubser nadat hulle die “Parkrun” in Krugersdorp voor die inperking voltooi het.

 

Hoewel inwoners nou weer mag oefen, is kompetisies en wedlope nog taboe.

Virtuele deelname aan pretlope is vir Michell Loubser en haar jare lange pretloop-oefenmaat, Jean Bester, van Thabazimbi die antwoord.

Die twee het ses jaar gelede begin om verskeie pretlope en Parkrun-geleenthede in die omgewing aan te pak. Albei sê Marakele-natuurreservaat buite Thabazimbi se “Run on the Wild Side” is hul gunstelingwedloop. Gelukkig het hulle nog nie nodig gehad om ’n rekord op te stel omdat ’n leeu of ander wilde dier hulle aangemoedig het nie!

“Dit kan ’n bietjie vervelig raak om net te gaan stap en nie deel te wees van die opwinding om jou nie. Jy lewe jou maar in tydens die virtuele pretloop en die adrenalien vloei asof jy die wedren werklik voltooi.”

Net soos met amptelike pretlope, skryf deelnemers daarvoor in en ’n nommer word aan elkeen toegeken. “As die wedloop afskop, neem jy sommer ’n foto met jou selfoon of as jy iemand het wat saam met jou deelneem, neem julle foto’s van mekaar met jul nommers vasgespeld. Jy neem self jou tyd met skermskote op jou selfoon sodra jy wegspring. Die prosedure word herhaal sodra jy die wedloop voltooi het,” het die twee aan Die Pos vertel.

Deelnemers wat oor slimfone beskik, kan die inligting en foto’s direk aan die organiseerders stuur. Daar is heelwat ander inligting wat die selfoon, afhangende van die model se funksies, ook kan gee soos die aantal kalorieë wat verbrand is, die helling van op- en afdraandes en ander statistiek.

Op hierdie manier kan deelnemers dus pretlope in ander dele van die land, of enige ander wedloop wat virtueel aangebied, op een van die grondpaaie in die omgewing of deur die woongebied aflê terwyl hulle hul verbeel dit is elders in die land.

Die twee het onlangs die PUK 5 km en die Knysna 10 km-pretlope op hierdie manier afgelê sonder om hul tuisdorp te verlaat.

“Jy voel jy is deel van die opwinding met die voorbereiding, die wegspring en die einde,” het Loubser gesê.

Deelname is nie altyd gratis nie. Die pretlope wat inskrywingsgeld vra, se fondse word gewoonlik vir een of ander liefdadigheidsinstansie aangewend. Soms is daar selfs medaljes vir deelnemers wat die wedlope voltooi het.

Om verder fiks te bly, ry die twee een keer per week met hul fietse op die paaie in die omgewing.

Mense wat meer wil weet oor virtuele pretlope is welkom om vir Loubser te bel by tel. 083 741 0116.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button