MunicipalNews

Groot munisipale projekte bring hoop

Raadgewende ingenieurs en kontrakteurs is ook reeds aangestel. Die meeste van die projekte is op Maandag 15 Junie aan die kontrakteurs oorhandig.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het talle projekte wat reeds aan die gang is of binnekort afskop.

Die koste van dié projekte beloop R95 miljoen, het Marlene van Staden, burgemeester, bevestig.

Raadgewende ingenieurs en kontrakteurs is ook reeds aangestel. Die meeste van die projekte is op Maandag 15 Junie aan die kontrakteurs oorhandig.

Meer as 1 000 huise in Phagameng word tans geëlektrifiseer en konstruksiewerk aan die nuwe Modimolle-substasie het begin.

Die toelae vir water en sanitasie sal gebruik word vir opknappingswerk aan die watersuiweringswerke in Modimolle, Mookgophong, Roedtan, Vaalwater en Alma. Die hoofrioollyn in Jay Naidoo in Phagameng sal opgegradeer word en verskeie rioolpompstasies sal ook opgeknap word. Daar sal rehabilitasie aan die Frikkie Geyserdam in Mookgophong gedoen word en ’n pyplyn na die watersuiweringsaanleg sal ook geïnstalleer word. Die hoof rioollyn in die nywerheidsgebied in Modimolle sal ook opgegradeer word.

Projekte wat aangepak sal word met geld van die munisipale infrastruktuur toelae, sluit in die plaveisel van Waterbergstraat en strate in Uitbreiding 3 in Vaalwater, die vestiging van die nuwe vullisterrein in Modimolle en die rehabilitasie van die ou een. Die Leseding-sportgronde sal voltooi word en die hoofpad in uitbreiding 10 in Phagameng sal daar ook plaveisel gelê word.

Die hoofrioollyn in Joe Slovostraat sal herstel word en bykomende watertoevoer sal aangelê word vir Roedtan, Modimolle, Vaalwater en Mookgophong. Daar sal ook gewerk word aan die hoofrioollyne in Uitbreiding 5 en 6 in Mookgophong en Alma.

Volgens Van Staden is die situasie by die munisipaliteit aansienlik beter as wat dit voorheen was. “Ons projek om elektrisiteitsdienslewering heeltemal van ander dienste te skei, het goeie vrugte afgewerp,” het sy gesê.

“Die munisipaliteit se inkomste uit elektrisiteit het aansienlik verhoog en ons verspreidingsverliese het met ’n vyfde afgeneem. Dit kan aan ’n aantal faktore toegeskryf word wat geen elektrisiteitsprysverhoging insluit nie. Ons het ons elektrisiteitsverliese op lyne verlaag met beter instandhouding en het alle voorafbetaalde meters geoudit en gebrugde meters vervang. Sedert Cigicell nie meer die voorafbetaalde krag se verkope behartig nie, maar die munisipaliteit dit self verkoop, het ons inkomste van R2 miljoen na R6 miljoen verhoog. Ons het regstellings gemaak aan die meterlesings van grootmaatverbruikers waar ons groot onderverhaling by ’n aantal kliënte gehad het.”

Die proses om alle werknemers te plaas wat sedert die samesmelting van die Modimolle en Mookgophong-munisipaliteite in 2016 gesloer het, is ook uiteindelik afgehandel.

Related Articles

Back to top button