Landbouers staar talle uitdagings in die gesig
Ons het die beste boere suid van die ewenaar, maar word nie deur die regering ondersteun met hulpfondse of veiligheid nie.
Die winter is hier en die plantseisoen vir wintergewasse het aangebreek ondanks die Covid-19-pandemie se uitdagings.
Die druk op die sowat 30 000 boere landwyd het toegeneem weens die groter behoefte na voedselsekerheid.
Henk van de Graaf, voorsitter van TLU SA Noordstreek en die Warmbad-DLU, en dr. Theo de Jager, voorsitter van die Saai-landbouorganisasie en president van die Wêreldlandbouorganisasie (WFO), het op Donderdag 25 Junie gesels oor wat die “nuwe normaal” vir landbouers inhou.
Die sessie het weens die Covid-19-maatreëls deur middel van ’n Zoom-vergadering geskied.
“Die ou normaal vir gesaaides bly steeds die nuwe normaal, want boere kan nie net enige gewasse in ’n ander seisoen plant nie. Daar is wel ’n nuwe normaal vir bemarking en die verspreiding van produkte. Dit gebeur al hoe meer dat die publiek direk van die boer koop,” het Van de Graaf gesê.
Die pandemie het die wêreld volgens hom in ’n warboel verander en veral vir die landboubedryf uitdagings gebring soos die onlangse brandstoftekort, werkloosheid en onvoldoende hulp aan alle boere.
De Jager het gesê hoewel mense moet eet, het hulle in hierdie tyd geleer om met minder klaar te kom. Varsprodukte het weer ’n herlewing beleef.
Die wêreld het “kleiner” geword en boere maak al hoe meer staat op digitale kommunikasie om die behoefte op wêreldmarkte vinnig en doeltreffend aan te vul.
“Suid-Afrika bied voorkeurprodukte en word deur ander Afrika-lande geloof vir ons bemarking na ander kontinente. Ons het die beste boere suid van die ewenaar, maar word nie deur die regering ondersteun met hulpfondse of veiligheid nie. Landbounavorsing en tegnologiese verbetering word ook nie genoeg deur die regering befonds nie,” het De Jager gesê.
Van de Graaf meen daar is groot uitdagings wat beleidsomgewing en ekonomiese uitsprake van politici betref.
“Landbou kan die land uit ’n resessie help, al is dit seisoenaal, maar die rasgedrewe agendas, soos droogtehulp wat slegs aan bestaansboere toegeken word, skep reuseuitdagings.
De Jager se reaksie hierop was dat verskeie Afrika-lande dieper in die knyp beland weens staatskuld. Die pandemie het tot gevolg dat daar nou nog groter lenings aangegaan word.
“Hoekom wil ’n mens ’n boom plant as jy weet jy gaan nie hier wees om die vrugte te eet nie? Landbou kan op die korttermyn werk skep, maar beleggings is nodig om dit volhoubaar te vestig en goeie stabiliteit en arbeidsverhoudings te handhaaf,” het De Jager gesê.
Van de Graaf het bygevoeg dat boere tevrede moet wees met ’n algemene winsmarge van 3% op hul produkte en indien die regering verdere druk op gevestigde boere plaas, sal dit tot gevolg hê dat kos op die rakke begin opraak.
De Jager het gesê die platteland kwyn weg en daarom respekteer hy kleiner boere wat aanhou boer ten spyte van ’n regering wat hulle nie ondersteun nie.
Albei sprekers het gesê bestaansboere is nie die oplossing om die land te voed nie, maar dat die hoop eerder op jong opkomende en gevestigde boere geplaas moet word.
“Boere wat die nuwe uitdagings met ywer en durf wil aanpak en deur geloof ’n volhoubare boerdery wil bedryf.”