LettersOpinion

Suid-Afrika op pad na ekonomiese ineenstorting, sê landbouleier

Presies dieselfde het in Zimbabwe gebeur.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter: SAAI (Southern African Agri Initiative) en president van die Wêreldlandbouorganisasie, skryf: 

Of jy een liter water in ’n emmer vol gate gooi of ’n duisend liter — die uitkoms is dieselfde: daar sal niks oorbly nie.

Die kern van Tito Mboweni, minister van finansies, se interimbegrotingsrede is dat daar nie meer genoeg water is om in die emmer te gooi nie; hoofsaaklik omdat ons nou al te veel geld geleen het. Dit maak egter nie saak hoeveel daar is nie, want sonder om die beleidsomgewing te verander (om die emmer te herstel), is Suid-Afrika op pad na ’n ekonomiese ineenstorting.

Presies dieselfde het in Zimbabwe gebeur.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is bankrot gesteel en byna twee jaar ná die aanvang van die Zondo-kommissie wat verdoemende getuienis oor staatskaping en plundery aangehoor het, het niemand nog daarvoor tronk toe gegaan nie. Solank die demoon van bedrog en plundery in die staatsdiens los is, maak dit nie saak hoe groot die begroting is nie.

Staatsinmenging in die ekonomie onder die dekmantel van BBBEE, kaderontplooiing en ander rasgebaseerde skemas soos die Covid-19-ramphulpprogramme, het verreikende gevolge gehad en daar is geen potensiaal om die ekonomie reg te ruk of te laat groei nie, ongeag hoeveel daarvoor begroot of uit die privaat sektor afgepers word.

Die R3 miljard-reddingsboei wat na die Landbank gegooi is, is noodsaaklik, want Suid-Afrika het die Landbank nog nooit so nodig gehad soos nou nie. Anders as kommersiële banke het die Landbank nie kliënte in die toerisme-, vervaardiging-, kleinhandel-, mynbou- of vervoerbedryf nie en omdat die bank net op die landbousektor fokus, is dit in geheel van grond as sekuri-
teit afhanklik. Onteiening sonder vergoeding vreet die bank se waarborge weg.

Mboweni is in die kol as hy sê dit is noodsaaklik om nou werkgeleenthede te skep en veral in die platteland waar dit die nodigste is. Dit verg egter beleggings en finansiering wat van beleidsekerheid afhanklik is. Niemand met gesonde verstand belê in grondgebaseerde ondernemings terwyl die swaard van onteiening sonder vergoeding oor hul kop hang nie. Die beleidsomgewing is te onseker daarvoor.

Boere in Suid-Afrika het steeds, ten spyte van ’n vyandige sake-omgewing en mededingende wêreldmarkte, Suid-Afrika se voedselsekerheidstatus onder die moeilikste omstandighede tydens die Covid-19-inperking in stand gehou en groot surplusse geproduseer en uitgevoer.

Vir kommersiële boere, wat kos aan die meerderheid van die stedelike bevolking voorsien, was daar geen ramphulp nie — nie vir die grendelstaat nie, nie vir die droogte nie en ook nie vir die wegholdiefstalsyfers nie. As landbou se potensiaal in ’n meer vriendelike beleidsomgewing losgelaat word, kan dit die soort welvaart skep wat honger en armoede kan uitwis, werkgeleent-
hede skep, valuta verdien en die staatskas kan aanvul, maar die emmer moet eers herstel word.

Related Articles

Back to top button