NewsSchools

Landsdieners doen hul plig tydens grendeltyd

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se Landsdiensklub het hulle nie tydens die grendeltydperk laat onderkry nie en steeds geld ingesamel vir die Magrietjies-kankerhulpgroep in die dorp.

Die Magrietjies is vrywilligers wat help met die versorging en ondersteuning van kankerpasiënte in die dorp en omgewing. Ester du Plooy en Marthie du Plessis het die bydrae van Carla van der Walt, Mia Koorzen en Jolindie Booyen ontvang.

Riana Potgieter, onderwyser by die skool en mediaverteenwoordiger van die Landsdiensbeweging in Limpopo, het hierdie gr.12-leerders bedank vir hul jare lange bydrae tot die beweging.

“Ek is so trots op ons klubs wat hulle nie van stryk laat bring het tydens die grendeltydperk nie,” het Potgieter gesê.

Die klub by Hoërskool Piet Potgieter het kos bymekaar gemaak vir die Dierebeskermingsvereniging in Mokopane. Die klub by Hoërskool Nylstroom het voor die grendeltyd ’n kruietuin by die skool aangelê en in stand gehou en Laerskool Nylstroom het tydens die grendeltyd plastiekbottels bymekaar gemaak vir herwinning. Eenheid Primary School het spekbome by hul skool geplant en Laerskool Bysonderheid in Roedtan het nie-bederfbare kos bymekaar gemaak vir behoeftige gesinne.

Die Landsdiensbeweging is ’n opvoedkundige jeugbeweging wat die bewaring van die omgewing nastreef.

Die ontstaan van die beweging kan teruggevoer word na ene Stone wat in 1914 ’n bedrag van £200 aan die destydse departement van landbou geskenk het om jong seuns te motiveer om op ’n meer wetenskaplike manier te boer. CF Visser het in 1943 die Landsdiensklubs vir naskoolse jeug gestig. Daar was toe twee bewegings, naamlik die landbouklubs vir skoolgaande jeug en landsdiensklubs vir naskoolse jeug. Die twee bewegings het in 1951 saamgesmelt en daarna bekend gestaan as die Landsdiensbeweging.

Daar het deur die jare klemverskuiwings plaasgevind: Sedert die sestiger jare is daar gekonsentreer op natuurbewaring wat in die jare tagtig verander het na omgewingsbewaring. Die hoofbestuur is in 1994 demokraties vanuit die streekbesture verkies en alle bande is met die staatsdepartemente verbreek.

Daar word jaarliks ’n provinsiale kamp by Badseloop buite Mookgophong gehou. Klublede word tydens hierdie kamp op meriete gekies vir die nasionale kamp wat gewoonlik aan die einde van die jaar
plaasvind. Vanjaar is alle kampe egter afgestel weens die Covid-19-inperkings.

Related Articles

Back to top button