Local newsNews

Nuwe leraar reg om dorpenaars te ontmoet

Stavast is aangestel nadat ds. Chris Botha Pretoria toe verhuis het.

Skaars twee weke nadat ds. Henk Stavast en sy vrou, Maronel, hulself in Modimolle tuisgemaak het, het die grendeltyd ingetree.

“Ons het nog skaars die geleentheid gehad om die mense te ontmoet, toe moet ons tuisbly!”

Dié nuwe predikantspaar van die Gereformeerde-gemeente Nylstroom was voorheen by die NG-gemeente Totiusdal in Pretoria-Moot.

“Ons het baie lekker daar gewoon en ek was verbaas toe ek die oproep kry dat ek beroep is Modimolle toe. Ons het vier kinders en twee jong kleinkinders wat naby ons gewoon het en ek het altyd gesê hulle beter nie trek nie … toe trek ons!”

Stavast is aangestel nadat ds. Chris Botha Pretoria toe verhuis het.

’n Vraag wat hulle gereeld kry is: Is julle familie van die Stavasts wat jare lank die winkel in die hoofstraat van die dorp gehad het? (Dié klerewinkel was destyds ’n landmerk in Modimolle.) Hy lag.

“Ons het ’n oupagrootjie in gemeen en ek het as kind op die dorp gekuier.”

Stavast is ook in 2015 deur die dorp op ’n fietstoer om geld in te samel vir die Hou Godsdiens in Skole-projek. Hy het saam met ’n vriend sowat 6 000 km regoor die land afgelê. Hy het steeds ’n gedig wat toe deur Laerskool Nylstroom aan hom oorhandig is.

Sy pad het in Modimolle weer gekruis met twee manne wat saam met hom in die Weermag was: ds. Ewald Schmidt van die NG-gemeente Nylstroom-Oos en ds. Willem Sauer van die Hervormde Kerk Waterberg. “Dit is die eerste keer sedert ons jongdae dat ons mekaar weer raakloop,” het hy gesê.

Sy vrou, Maronel, het 24 jaar lank borduurklasse aangebied. Van haar fyn handwerk hang in die Voortrekker Monument en by die Munt in Pretoria.

“Ek en Maronel sien uit daarna om die dorp se inwoners beter te leer ken sodra die grendeltyd verby is. Ons is reg vir hierdie nuwe uitdaging,” het Stavast gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button