LettersOpinion

Swak skole veroorsaak toestroming na skole met beter onderwys

Daar bestaan nie openbare skole wat leerders op grond van ras uitsluit nie en daarom verwar Panyaza Lesufi, soos altyd, ras met Afrikaans.

Adv. Anton Alberts, Vryheidsfront-Plus: nasionale voorsitter en lid van provinsiale wetgewer: Gauteng, skryf:

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het tydens die wetgewersdebat oor die onderwysbegroting aangedui dat daar genoeg skole in die provinsie is, maar dat swakker skole leeg-
loop omdat ouers hul kinders na beter skole neem waar die onderriggehalte goed is.

Die VF-Plus vind dié uitlating misleidend aangesien heelwat studies aantoon dat daar te min skole in Gauteng bestaan. Selfs die wetgewer se onderwyskomitee het in sy verslag beaam dat die beplande infrastruktuurprojekte nie vorder nie en die komiteevoorsitter het ’n besondere pleidooi in dié verband tydens die debat gelewer.

Lesufi het eenvoudig nie daaraan gehoor gegee nie, maar het egter glad nie verduidelik waarom hy nie werk maak daarvan om die swakker skole te bemagtig nie. Juis daarom is sy erkenning eintlik ’n aanklag teen homself en sy departement. Dit is eintlik Lesufi se skuld dat kinders ver vervoer moet word om gehalte skole by te woon.

Eie aan Lesufi se obsessie met rassisme het hy die VF-Plus se geldige posisie oor ’n gebrek aan skole-infrastruktuur gekoppel aan Afrikaanse skole se onwilligheid om swart leerders in te neem, wat van alle waarheid ontbloot is.

Daar bestaan nie openbare skole wat leerders op grond van ras uitsluit nie en daarom verwar Lesufi, soos altyd, ras met Afrikaans. Lesufi weier eenvoudig om te aanvaar dat die Afrikaanse gemeenskap in die breë bestaan uit swart, bruin en wit mense en dit bevat nie ’n sweem van rassisme om Afrikaanse skole te beskerm nie.

Verder het Lesufi in sy rede weer gal gebraak en geïmpliseer dat alle blankes rassiste is na aanleiding van die Black Lives Matter-beweging en die gebeure daar rondom. Dit verklaar net weer sy bevooroordeelde optrede teen die Afrikaanse gemeenskap.

Die VF-Plus verwerp hierdie ongegronde aantygings van Lesufi met minagting en waarsku hom om sy eie vooroordele in toom te hou wanneer dit kom by die pligte van sy amp.

Die VF-Plus sal geen viktimisering van die Afrikaanse gemeenskap duld nie.

Related Articles

Back to top button