Limpopo se luiperds word getel
’n Grootskeepse luiperdtelprojek is in Limpopo geloods om ’n beter idee te kry hoeveel luiperds in Suid-Afrika is.
Die jag van dié diere is in 2016 opgeskort.
Die Suid-Afrikaanse beroepsjagtersvereniging (Phasa) het verlede jaar, in samewerking met die Singata Bewarings- en navorsingsfonds, ’n projek in Limpopo geloods om die verspreiding van luiperds op grond wat in privaatbesit is vas te stel en ’n aanduiding te kry of luiperdgetalle verminder.
Die langtermynprojek is in Limpopo geloods omdat dit een van die provinsies is wat die mees geskikte habitat vir dié skugter diere bied. Dit sal later na ander provinsies uitgebrei word, het Pieter Potgieter, aangewese president van Phasa, gesê. Daar is tans ses projekte waarvan drie reeds afgehandel is en drie goed vorder.
“Nadat die jag van luiperds in 2016 in Suid-Afrika beëindig is, het Phasa besef die enigste manier om inligting oor die getalle te bekom, is om die navorsing self te doen en nie op staatsdepartemente staat te maak om inligting te verkry nie. Ons het daarom die projek van stapel gestuur om te bepaal hoe ons luiperdgetalle daar uitsien. Ons is eerstens bewaarders en tweedens jagters. Ons is wel daarvan oortuig dat die luiperdgetalle gesond is en wil graag sien of navorsing dit bevestig,” het Potgieter gesê.
Een van die projekte wat tans geloods word, is in die Nyati- en Goudriviergebied tussen Vaalwater en Lephalale. Luiperdbeweging is in slegs een week by meer as 45 punte opgemerk. Die punte word op ’n kaart van die gebied aangeteken. Die Buffalo Creek-projek is ook naby Vaalwater geleë.
Die navorsing maak staat op kamerapunte wat opgestel is in die veld waar luiperds beweeg. Foto’s en video’s word van die diere geneem om te help om hulle te identifiseer en sodoende kan ’n prentjie geskep word van hoeveel diere in die omgewing aktief is.
Luidens ’n verslag deur die vereniging word die navorsing slegs in gebiede groter as 10 000 ha gedoen en strek dikwels oor verskeie eiendomme. Die grondeienaars, hul werknemers, professionele jagters en mense in die gemeenskap word ook by die navorsing betrek sodat ’n volledige indruk verkry kan word. Tekens van luiperds, hul vangste, spore of mis word aangemeld.
Die projekte in Rhinoland (oos van Lephalale), Dwaalboom en Thaba Tholo (albei in die Thabazimbi-omgewing) is reeds afgehandel. Die twee projekte buite Vaalwater en Rooiberg vorder ook goed sedert die kameras begin Junie geïnstalleer is.
Die luiperdloerbroer-projekte is nie sonder uitdagings nie. Nuuskierige olifante, kameelperde en buffels skuif soms van die kameras of beskadig dit. Die navorsers kon gedurende die grendeltyd ook nie by die kameras uitkom om te verseker dat alles nog in orde is nie en werknemers op die plase is opgelei om die geheuekaarte en batterye gereeld te vervang sodat die nodige inligting steeds noukeurig ingesamel kan word.