Local newsNews

Groot geld of groot verdriet?

“Wie nie waag nie, sal nie wen nie,” lui die spreekwoord, maar hoe wys en hoe wettig is dit om tydens die landwye grendeltydperk waagspronge op geldelike gebied te neem?

Die Pos het by ’n kenner gaan kers opsteek oor die talle geldmaakaanbiedinge waarmee mense sedert Maart op veral sosiale media oorval word.

Die geldmaakplanne wissel van aanlynbeleggings tot stokvelplanne en skemas wat aansienlike bedrae geld beloof sodra iemand by die plan inskakel. Die Pos weet van talle mense in die omgewing wat op sosiale media verkondig dat hulle reeds aansienlike bedrae geld verdien het en daarom ywerig besig is om nóg beleggers te werf. En kom ons wees nou maar eerlik: Wie wil nié in hierdie tyd ’n ekstra geldjie verdien nie?

Pieter Botha, finansiële beplanner en portefeuljebestuurder by PSG Wealth, waarsku mense egter om baie versigtig te wees. Volgens hom definieer die wet op verbruikersbeskerming ’n piramideskema as ’n ooreenkoms, reëling of praktyk waar die deelnemer aan die skema vergoeding ontvang deur die werwing van ander mense as deelnemers tot die skema, pleks van vergoeding deur die verkoop van goedere of dienste. Die wet verbied die bemarking van sulke skemas.

Botha het aan Die Pos gesê mense wend nou desperate pogings aan om hul finansiële posisies te verbeter en daarom trap hulle dikwels in ’n slaggat.

Sy raad aan potensiële beleggers is om deeglike navorsing te doen en baie spesifieke vrae aan bemarkers van enige geldmaakvoorstelle te vra.

“Vra wie is die direkteure, wie is hul ouditeure, asook in watter instansie die fondse belê word om ’n opbrengs te verskaf. Vra ook of die instansie by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geregistreer is, asook vir ’n SAID-bewys dat die belegging belas kan word of vrygestel is van belasting. As dié inligting nie beskikbaar is nie, is die belegging onwettig.”

Verdere vrae wat die belegger kan vra is of daar koste verbonde is aan die belegging en of daar ’n aanvangsfooi of kommissie en jaarlikse fooie aan die instansie betaalbaar is. Indien ja op enige van hierdie vrae geantwoord word, moet die rooi ligte vir die belegger flikker, het hy gesê.

“Enige belegging is gevaarlik indien dit nie deur ’n versekeringshuis of bank onderskryf word nie. Waarborge wat nie deur ’n bank of versekeringshuis onderskryf word nie, is uiters riskant en is in 99% van die gevalle nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.”

“Enige skema waar die belegger ’n voordeel ontvang om iemand anders te werf tot die skema, is waarskynlik onwettig,” het hy gesê. “Die instansie moet bewyse lewer dat hulle geregistreer is by die owerhede vir die finansiële sektor (FSCA). Indien nie, bly weg,” het Botha gesê.

Related Articles

Back to top button