NewsSchools

Eerste skooldag terug verloop vlot

Alles het vlot verloop op Maandag 8 Junie toe Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi se gr. 12-leerders amptelik terug skool toe is ná die grendeltydperk.

Sommige personeel het reeds vanaf 06:00 diens gedoen om te verseker dat alles reg is om die leerders terug te verwelkom. Die res van die personeel was om 06:30 op hul onderskeie poste.

Volgens ’n woordvoerder van die skool het die skandering en siftingsproses van leerders by hul aankoms vlot verloop en is geen gevalle van hoë temperature aangemeld nie.

Hoewel die see van gesigmaskers ’n vreemde gesig is, was hoop en blydskap om mekaar weer te sien die oorweldigende gevoel by leerders en onderwysers.

Leerders het ná die skandering almal kolwyntjies ontvang wat deur die adjunkhoof, Martie Boshoff, uitgedeel is.

Cobus Snyman, die skool se Covid-19-koördineerder, en Henco Smith, lid van die skool se bestuurspan, het gesorg dat die terrein reg was om die gr. 12’s terug te ontvang.

Van die leerders het aan Die Pos gesê dit voel vreemd om die 1,5 m sosiale afstand te handhaaf, veral tydens pouse, maar hulle sal daaraan gewoond raak.

Een van die grootste uitdagings van die skool was om ’n uitvoerbare rooster op te stel om voorsiening te maak vir die kleiner aantal leerders wat per klas geakkommodeer mag word. Tiaan Schmidt, onderwyser, het ’n groot rol gespeel in die uitwerk van dié rooster.

Colin Campbell, skoolhoof, het aan Die Pos gesê hy waardeer die 100% samewerking van sy personeel en leerders.

Related Articles

Back to top button