NewsSchools

Spa Park staan voor groot uitdagings

Skole in die Waterberg-omgewing kom voor groot uitdagings te staan weens tekorte wat hul reeds vóór die grendeltydperk beleef het.

Johan Adams, skoolhoof van Spa Park Primary School in Bela-Bela, het aan Die Pos gesê die skool het ’n tekort aan hulpbronne en voorsien groot uitdagings wanneer meer leerders terugkeer skool toe.

Die skool ondervind ook probleme met vandalisme. Daar is sedert die begin van die grendeltyd altesame 28 klaskamers se vensters gebreek.

“Ons skool het beperkte fondse en ons begroting maak nie vir hierdie onvoorsiene uitgawes voorsiening nie. Die departement van onderwys is verantwoordelik vir die instandhouding van ons skool. Ons het reeds voor die inperking nie genoeg leermateriaal gehad nie en met dié dat klasse nou gedeel word om sosiale afstande te handhaaf, moet ons beskikbare leermateriaal nou nóg weier versprei word,” het hy gesê.

“Ons kry min ondersteuning van ons ouers, want hulle sukkel self om kop bo water te hou nadat baie hul werk en inkomste verloor het. ’n Gebrek aan geld en hulpmiddels verhoog ons behoeftes,” het Adams gesê.

Adams het gesê daar bestaan ’n wanpersepsie dat plaveisel en gras ’n luukse is. “Dit is noodsaaklik om beter higiëne te verseker. Die baie stof in ons omgewing kan ons kinders siek maak,” het hy gesê.

“Ons kort dringend bykomende klaskamers, skoolmeubels, instandhouding- en studiemiddels, want as die res van die leerders in Julie opdaag, gaan die daaglikse behoeftes groter word. Dit is bykans onmoontlik om aan die nuwe voorskrifte van Covid-19 te voldoen met die hulpmiddels wat tans tot ons beskikking is.”

Die skool het 1 320 geregistreerde leerders.

Die departement subsidieer die skool se voedingsprogram en volgens Adams is dit baie leerders se enigste ordentlike bord kos wat hulle per dag ontvang. Hy het ook gesê die departement het gesigmaskers en ander sanitasieprodukte aan die skool voorsien.

Adams het gesê die skoolreëls is reeds aangepas om aan al die riglyne te voldoen. Hy het voorts gesê leerders het tydens die inperking lesse deur WhatsApp ontvang, maar dit is nog te vroeg om te sê of die akademie agterweë gebly het of nie.

“Ons is bly dat geen van ons leerders tans siek is nie. Ons doen regtig die beste wat ons kan om die leerders op ’n goeie akademiese vlak te bring, maar ons het hulp nodig.”

Indien daar lesers is wat die skool kan bystaan, kan hulle die skool skakel by tel. 081 216 2949, of vir Adams by tel. 084 205 8034. Die skool kan volgens departementele riglyne slegs besoek word as daar vooraf ’n afspraak gemaak is.

Related Articles

Back to top button