Local newsNews

Bekende oud-inwoner van Bela-Bela sterf aan Covid-19

Hy het omgegee vir sy medemens en ’n warm, vriendelike persoonlikheid gehad. Hy het nie gehuiwer om mense geldelik te ondersteun nie en was lief daarvoor om poetse te bak.

Nic van Heerden (87), ’n oudinwoner van Bela-Bela, is op Dinsdag 9 Junie in Pretoria oorlede nadat hy 24 uur vroeër met die Covid-19-virus gediagnoseer is.

Van Heerden se kinders, Pieter, Fred en Jakkals van Heerden, is bekende sakemanne in die omgewing en sy dogter, Lynette van der Walt, is ’n boervrou buite die dorp.

Fred het die afgelope week aan Die Pos gesê hoewel sy pa aan Alzheimer-siekte gely het, was hy tot kort voor sy dood baie gesond. Niemand weet hoe sy pa die Covid-virus opgedoen het nie.

“Oom Nic” (soos hy in die dorp bekend gestaan het) het die afgelope paar jaar in ’n aftreeoord in Pretoria gewoon waar spesialisbehandeling aan bejaardes met dementia gebied is.

Hy is volgens Fred ná sy diagnose in afsondering by die oord geplaas, maar is toe onverwags oorlede. Die oord is volgens Fred besig om ondersoek in te stel oor hoe die virus oorgedra is.

“Ons pa was baie goed versorg by die oord. Ons neem hulle nie kwalik vir sy dood nie. Die slegte tyding van sy dood was egter vir ons almal onverwags.”

Nic en sy gesin het in 1964 van Potgietersrus (nou Mokopane) na Bela-Bela verhuis.

Hy was bekend as sakeman in die dorp en was onder meer eienaar van die destydse Model Slaghuis en Model Meubels.

Hy het later in die eiendomsbedryf betrokke geraak en was een van die oorspronklike ontwikkelaars wat geboue in Chris Hanistraat gebou en bestuur het.

Hy het ook sy merk in die landboubedryf gemaak en baie jare in die Mabula-omgewing geboer.

Van Heerden se vrou, Joyce, is in 2015 oorlede.

Die familie sal hom onthou as ’n man wat altyd ’n humoristiese kwinkslag gehad het. Hy het omgegee vir sy medemens en ’n warm, vriendelike persoonlikheid gehad. Hy het nie gehuiwer om mense geldelik te ondersteun nie en was lief daarvoor om poetse te bak.

Hy was ’n diereliefhebber en het altyd ’n hondjie gehad wat hom vergesel het. Volgens Fred was sy pa baie lief vir sy familie en trots op sy kinders.

’n Roudiens word beoog, maar teen druktyd was meer inligting nog nie beskikbaar nie.

Van Heerden laat sy vier kinders en talle kleinkinders agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button