CrimeNews

Munisipaliteit wen hofsaak teen grondbesetters

Van die grondgrypers het reeds begin met die oprigting van onwettige strukture.

Grondgrypers in Mookgophong het boere, Sanral (die Suid-Afrikaanse padagentskap) en die plaaslike munisipaliteit die afgelope paar weke warm onder die kraag gehad.

Die eerste grondgrype het glo op Vrydag 22 Mei begin toe mense erwe direk langs die N1-snelweg, op grond wat aan Sanral behoort, begin skoonmaak het en penne ingesteek het.

Volgens Carel Engelbrecht, ’n boer in die omgewing, het een van die grondbesetters aan hom gesê hulle is aangesê om vir hulle erwe uit te meet. Hy wou nie die naam noem van die persoon wat dit glo gesê het nie.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit, het op Woensdag 27 Mei in ’n verklaring gesê die Mookgophong-omgewing is een van die plekke wat tans die ergste deur onwettige grondbesettings geraak word met besetters op grond wat aan die munisipaliteit, Transnet, die departement van openbare werke en Sanral behoort.

Van die grondgrypers het reeds begin met die oprigting van onwettige strukture.

Die munisipaliteit het volgens Van Staden dadelik aandag aan die saak geskenk en hom tot die hooggeregshof in Polokwane gewend vir hulp. Die hof het volgens Van Staden op Dinsdag 2 Junie in ses verskillende sake in die guns van die munisipaliteit beslis en ’n interdik teen onwettige besetters toegestaan.

’n Vergadering is op dieselfde dag met polisie gehou oor hul rol in die verwydering van onwettige strukture en mense, asook die beskerming van munisipale eiendom en die bekamping van grondgrype.

Volgens Van Staden het die balju op Donderdag 4 Junie hofstukke op grondbesetters beteken en is borde aangebring wat oortreders in kennis stel dat die grond in privaat besit is en dat betreding onwettig is.

“Hierdie grondbesettings lei tot onveilige puttoilette, onwettige storting van vullis en die moontlike besoedeling van ons waterbronne. Dit is gevaarlik — nie net vir die grondbesetters nie, maar ook vir die inwoners van die omliggende omgewing,” het Van Staden gesê.

Van Staden het gesê indien mense grond verlang, moet hulle die regte aansoekprosedures volg.

Related Articles

Back to top button