Local newsNews

Magrietjies steeds daar vir kankerpasiënte

Hoewel die Covid-19-inperkingstyd vanaf Maandag 1 Junie verslap is na vlak-3, is die uitdagings van die grendeltyd steeds vir talle instansies nie verby nie.

Die Magrietjie-kankerhulpgroep van Mookgophong is een van die instansies wat gedwing is om hul onbaatsugtige werksaamhede in dié tydperk af te skaal.

Volgens Elarda Wondergem, een van die vrywillige werkers, kon hulle nie soos gewoonlik en so gereeld soos normaalweg ondersteunings aan kankerpasiënte verskaf nie.

Slegs die 24-uur nooddiens vir kankerpasiënte kon normaalweg voortgaan. Hulle kon egter reeds van hul werksaamhede hervat namate die inperkingsmaatreëls verslap is.

Die kantoordeure is nog nie daagliks oop nie, maar intussen word die kliniek steeds op Donderdae van 09:00 tot 11:00 aangebied.

Die Magrietjies is vrywilligers wat help met die versorging en ondersteuning van kankerpasiënte in die dorp en omgewing. Die groep het in 1994 ontstaan onder leiding van ’n verpleegsuster, Tonny Oerlemans. Die groep het in April 2000 onafhanklik van Kansa begin funksioneer en funskioneer tans onder die beskerming van die Naboom-welsynsorganisasie vir bejaardes (NWOB).

Die Magrietjies is ten volle afhanklik van die gemeenskap en insamelingsprojekte wat deur die gemeenskap en kerke ten bate van hul fonds gehou word.

Die grendeltyd het egter alle fondsinsamelingsprojekte gekniehalte en die organisasie onder geldelike druk geplaas. Die Magrietjies se kantore is in Sesdestraat in Mookgophong.

Related Articles

Back to top button