NewsSchools

Privaatskole open terwyl staatskole toe bly

Talle privaatskole in die Waterberg het die afgelope week hul deure op Maandag 1 Junie oopgestoot terwyl die meeste departementele skole geen ander keuse gehad het as om leerders en onderwysers op kort kennisgewing vir nog ’n week huis toe te stuur nie.

Talle privaatskole in die Waterberg het die afgelope week hul deure op Maandag 1 Junie oopgestoot terwyl die meeste departementele skole geen ander keuse gehad het as om leerders en onderwysers op kort kennisgewing vir nog ’n week huis toe te stuur nie.

Laerskool en Hoërskool Warmbad se planne om hul gr.7- en gr.12-leerders terug te verwelkom is in die wiele gery nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, op Sondag 31 Mei bekendgemaak het dat die onderwysstelsel nog nie gereed is om leerders te ontvang nie. Dié verklaring het groot verwarring veroorsaak nadat sy vroeër bekendgemaak het dat skole beslis op Maandag 1 Junie heropen.

Onderwys-unies was die dryfveer agter die uitstel van dié datum nadat hulle kommer uitgespreek het oor die gesondheidsgevare waaraan leerders en personeel blootgestel kan word. Hulle het ook daarop gewys dat verskeie skole steeds nie oor lopende water, ontsmettingsmiddels of bestuursplanne beskik nie.

Laerskool én Hoërskool Warmbad het reeds voor 1 Junie die nodige voorsorgmaatreëls getref. Albei skole het groot lof uitgespreek teenoor Carel Coetzee van SuperSpar Bela-Bela wat die skole met sy industriële toerusting en professionele operateurs ontsmet het. Albei skole se skoolbesture het ouers en leerders voortdurend op hoogte van sake gehou en daar is met afwagting uitgesien na die leerders se terugkeer op 1 Junie.

Motshekga se aankondiging het albei skole nou egter genoop om eers op Maandag 8 Junie te heropen.

Die deure van privaatskole soos die Eden Christen Skool op die Thabazimbi-pad buite Bela-Bela, asook die Academia Private School in die dorp, is egter amptelik oop en leerders het reeds weer met skoolwerk begin.

Chrisna van der Walt, skoolhoof van Academia, het by navraag gesê die skool kon open danksy die insette van die nasionale vereniging vir onafhanklike skole (NAISA) wat die departement oortuig het dat privaatskole nie onder dieselfde kam as staatskole geskeer kan word nie.

“Privaatskole het soms minder leerders, wat die nuwe prosedures meer beheerbaar maak. Daar is ongeveer 80 leerders by Academia (van gr.1 tot gr.12), terwyl daar in sommige ander skole tot soveel leerders per graad is,” het Van der Walt gesê.

“Ons moet steeds voldoen aan die departement se vereistes en het al die nodige toestemming ontvang om onderrig te gee. Ons is nie bekommerd oor ons leerders se akademiese standaard nie. Ons beoog om die verlore tyd in te haal deur die skooldag tot 15:00 te verleng.”

Vervoer vir leerders van dié skool is egter ’n groot struikelblok omdat talle leerders van openbare vervoer gebruik maak.

Van der Walt het gesê die skool bied Whatsapp- en Skype-klasse aan vir leerders wat gesondheidsprobleme ervaar.

Diegene wat wel by die skool is, se hande en selfs skoensole word ontsmet, hul temperatuur word gemeet en hulle ontvang elke dag ’n nuwe masker.

Hulle mag slegs hul maskers afhaal wanneer hulle eet. Leerders moet afstande van 1,5 m tussen mekaar in die klasse en op die stoepe handhaaf en moet pouses 3 m uitmekaar bly.

Leerders sit heeldag by die dieselfde skoolbank en onderwysers wissel klasse.

Mignon van der Merwe, skoolhoof van Eden Christen Skool, het by navraag gesê hulle gr.10-, 11- en 12-leerders het reeds met eksamens begin. Die leerders het tydens die grendeltyd aanlynklasse bygewoon.

“Die meeste van die leerders het hul kant gebring en ons voel hul akademie is op standaard. Die hersiening wat ons nou doen, help hulle baie met die voorbereiding vir die eindeksamen.”

Edenskool sou teen Dinsdag 2 Junie al hul leerders terug verwelkom het.

“Die meeste van die ouers wil hê dat hul kinders moet terugkeer skool toe. Ek dink die personeel en leerders is dankbaar om terug te wees.”

Related Articles

Back to top button