NewsSchools

Ons is reg om te begin, sê Nylies

Skole wat vandeesweek soos atlete in hul blokke oorgehaal was vir die wegspring, moes teleurgestel terugdraai nadat die afsitter se kruit duidelik nat geword het en die skoot toe nooit geklap het nie.

Angie Motshekga, minister van onderwys, het Sondagaand 31 Mei ter elfder ure laat weet die opening van skole word uitgestel omdat sy noodgedwonge eers met verskeie rolspelers moes vergader.
Die Wes-Kaapse department van onderwys het egter aangedui dat hulle skole wél op 1 Junie sou open.

“Ons was reeds twee weke lank gereed om die leerders terug by die skool te ontvang en was regtig teleurgesteld toe ons Sondagaand die ouers moes laat weet dat ons nie Maandag kon open nie,” het Roelf Vorster, waarnemende skoolhoof van Laerskool Nylstroom, aan Die Pos gesê.

 

Gr. 1 en gr. R-onderwysers, Sonét Rietchard en Amori Taylor, gaan inspring om te help om die gr. 7-leerders terug by Laerskool Nylstroom te ontvang. Foto: Verskaf

 

Die skool is ontsmet, die gr. 7’s is opgedeel in kleiner groepe, maskers en ontsmettingstasies asook ’n digitale termometer was gereed. Dit was net die leerders wat nie daar was nie.

“Ons het Sondag gewag om te hoor wat die minister van onderwys te sê het en daarna wat die reaksie van die vakbonde en die hoofdekring in die provinsie is. Ons het ook met ons beheerliggaam beraadslag en besluit dit sal die beste wees as ons eers op Maandag 8 Junie open.”

Volgens Vorster is hulle gereed om aan die maatreëls te voldoen soos dat daar nie meer as 20 kinders in ’n klas is nie en dat almal 1,5 m uit mekaar bly. “Ons het reëlings getref dat die kinders nie wissel nie, maar by hul tafels bly sit. Die onderwysers sal van klaskamer na klaskamer beweeg.” Een van die oplossings wat die skool oorweeg vir wanneer meer grade terug is, is dat sekere grade op sekere dae skool bywoon om die getalle op die terrein laag te hou. “Ons sal daarna kyk hoe ons die gr. 4 en 5-leerders wat eers later begin, kan help om al die werk in te haal.”

Die skool het nie maskers van die departement ontvang nie, maar wel ’n elektroniese termometer. Dit werk egter nie. “Ons het op eie onkoste nog twee aangeskaf wat by die sanitasiestasies gebruik sal word. AfriForum het ons ook gehelp met nog toerusting,” het hy gesê. “Een van die uitdagings is dat die werkers, wat by ’n aparte hek inkom, elke dag eers getoets moet word en daarna die onderwysers. Dan word die kinders getoets en eers daarna kan ons begin werk. Een termometer sou nie voldoende wees nie,” het hy gesê. Die koste beloop sowat R2 000. Hoewel leerders hul eie maskers moet voorsien, het Vorster gesê talle ouers het ekstra maskers skool toe gestuur.

“Ons is baie ernstig oor ons personeel en leerders se gesondheid. ’n Vriend van my by ’n Pretoriase skool het gewaarsku dat ons baie deeglik te werk moet gaan. Een van hul personeellede het positief getoets vir die virus en die hele skool moes vir twee weke sluit. Ons wil dit vermy.

“My hart gaan veral uit na die gr. 7’s. Hulle loop baie dinge mis soos leierwees, sportbyeenkomste en die gr. 6-leerders se opvoedkundige toer. Hierdie is ’n uitdaging wat ons moet aanpak en ons hou aan bid,” het hy gesê.

“Vir baie was die onverwagse tyd by die huis lekker, maar nou verlang almal terug skool toe!”

  • Hoërskool Nylstroom se gr. 12-leerders het op Maandag 1 Junie vol geesdrif by die skool opgedaag. Hulle het die dag Covid-19-oriëntering ontvang en is daarna terug huis toe, het Tjaart du Plessis van die skool se beheerliggaam gesê. Die leerders meld weer op Maandag 8 Junie aan soos wat die nuutste regulasies van die onderwysdepartement bepaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button