Local newsNews

Grendeltyd kry nie dié Mnr. SA-finalis onder

Finaliste van die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie het tydens die grendeltydperk hul deel gedoen om verligting te bring terwyl ’n dreigende maatskaplike krisis in die land heers.

David Schabort (19) van Bela-Bela, die jongste Mnr. SA-deelnemer van vanjaar se top 60-finaliste, is een van diegene wat hoop om in Augustus tydens ’n glansgeleentheid as een van die top 10-finaliste verkies te word.

Die publiek kan steeds vir hul gunstelingdeelnemer stem. Daar word aan die einde van elke maand tien deelnemers uitgeskakel. Die finale ronde vind voorlopig in Oktober plaas waarna die nuwe Mnr. Suid-Afrika aangewys sal word.

Schabort het aan Die Pos gesê een van die groot uitdagings waarmee hy tans besig is, is die Covid-19 Saving Small Businesses One At A Time-projek waar ontsmettingsmiddels en gesigmaskers verkoop word. Vir elke item wat verkoop word, word ’n bedrag aan die fonds geskenk wat ondernemings ondersteun wat finansieel onder druk is.

Hy het gesê dié poging word deur Mnr. Suid-Afrika-organiseerders bestuur en die fonds groei danksy die ondersteuning van die publiek.

“Ek is positief en opgewonde oor wat voorlê en ek geniet die kompetisie tot dusver baie. As die jongste deelnemer is ek hoopvol en vasberade om my passie uit te leef en as ambassadeur vir Suid-Afrika op te tree.”

Mense wat vir David wil stem, kan MRSA93 per SMS stuur na tel. 40439.

Vir navrae of om by te dra tot die projek, bel vir David by tel. 079 147 6147.

Related Articles

Back to top button