Local newsNews

Persele moet behoorlik ontsmet word

Die langverwagte aanbreek van vlak-3 van die grendeltyd het op Maandag 1 Junie in werking getree en duisende werkplekke het vir die eerste keer in maande weer hul deure oopgestoot.

Daar is egter streng veiligheidsmaatreëls waaraan werkgewers moet voldoen.

Ondernemings word aangeraai om hul werkplekke professioneel te laat ontsmet. Die uitreiking van ’n sertifikaat wat toon dat daar aan die minimumvereistes vir veiligheid voldoen word, dien ook as gemoedsrus vir personeel en kliënte.

Die Pos het navraag gedoen oor sulke dienste in ons omgewing en vir Willie Gunther van Averto gevra wat belangrik is om die verspreiding van Covid-19 te beperk.

“Die verantwoordelikheid rus baie swaar op eienaars en werkgewers om hul personeel se werkplekke veilig te hou. Wanneer daar direk met die publiek gewerk word, word die aanspreeklikheid net hoër,” het hy gesê.

Hy het gesê die gevaar vir die verspreiding van Covid-19-infeksies word beperk wanneer werkplekke met die regte produkte, wat aan die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde se vereistes voldoen, ontsmet word.

Ingevolge bestaande wetgewing is die publiek verplig om gesigmaskers te dra wanneer hulle enige openbare plek betree. Sakelui en diensverskaffers moet toesien dat besoekers se hande ontsmet en hul temperatuur geneem word. Die nodige sosiale afstand van ongeveer 1-2 m moet ook tussen mense gehandhaaf word.

Sakelui word gewaarsku dat daar tans baie skelmstreke in die omtrek is. Die media waarsku gereeld oor opportuniste wat nou maskers, handreiniger of saniteermiddels van swak gehalte verkoop of selfs mense bedrieg deur nooit die beloofde produkte te lewer nie.

Volgens Gunther moet operateurs wat ontsmettingswerk verrig die regte veiligheidsuniform dra en diensverskaffers moet geldige sertifikaat kan uitreik. Die wet vereis ook deeglike rekordhouding van sakeondernemings, produkte en selfs die operateurs wat gebruik is vir die ontsmetting van openbare plekke.

Related Articles

Back to top button