Local newsNews

Só gaan vlak 3- inperking werk

Die wekelange inperking weens die Covid-19-virus het onberekenbare ekonomiese skade aangerig en sakelui, asook werknemers, is haastig om weer aan die werk te kom en ’n inkomste te verdien.

Die land het ’n gesamentlike sug van verligting geslaak toe pres. Cyril Ramaphosa op Sondagaand 24 Mei die woorde “vlak 3” kwytraak.

Die wekelange inperking weens die Covid-19-virus het onberekenbare ekonomiese skade aangerig en sakelui, asook werknemers, is haastig om weer aan die werk te kom en ’n inkomste te verdien.

Vlak 3 van die inperking beteken dat sowat agt miljoen mense kan terugkeer werk toe noudat die meeste ekonomiese aktiwiteite weer oopgestel is. Slegs bedrywe waar daar nie behoorlike afstand tussen mense gehandhaaf kan word nie se deure bly steeds toe. Dit sluit in haar- en skoonheidsalonne, gimnasiums, konferensiesentrums, byeenkomste van groot groepe mense wat sport- en kerkdienste (beperk) insluit en verblyf in hotelle, lodges en gastehuise vir ontspanning. Restaurante mag nog nie aansit-etes bedien nie, maar kan wel wegneemetes en etes vir aflewe-
ring verkoop.

Die nasionale aandklokreël sal ook afgeskaf word en mense sal enige tyd van die dag kan oefen, solank dit nie in groepe is nie.

Plaaslike vlugte vir sakedoeleindes sal weer hervat word.

Die verkoop van drank vir huishoudelike gebruik sal tydens sekere tye toegelaat word. Slegte nuus vir rokers is dat sigarette steeds nie verkoop mag word nie.

Die konstruksiebedryf is weer volstoom aan die gang en alle verkope van klere en elektriese toebehore kan weer voortgaan. Die grootmaatverkope en ander handelaars, insluitend spaza-winkels, maak weer hul deure oop. Indien hulle aan die higiëniese vereistes voldoen, sal alle vervaardigings-, myn- en finansiële dienste, asook besigheids- en professionele, inligtingstegnologie, kommunikasie- en regeringsdienste hervat. Mense word steeds aangemoedig om waar moontlik tuis te werk.

’n Mens mag steeds nie familie en vriende besoek nie en alle groot byeenkomste is steeds verbied. Mense mag steeds nie oor provinsiale grense reis sonder toestemming nie.
Gr. 7- en matriekleerders meld vanaf Maandag 1 Junie weer by die skole aan, met ander grade wat mettertyd sal volg. Volgens die regering mag ’n derde van alle universiteitstudente terugkeer kampusse toe.

Openbare vervoer is ook weer oop, maar passassiers moet hul hande was en gesigsmaskers dra.

Die president het gewaarsku dat mense se bewegings weer ingeperk kan word in gebiede waar die infeksiekoers drasties styg.

Teen druktyd was daar nog geen duidelikheid oor wanneer huishulpe en tuiniers mag terugkeer werk toe en of sportsoorte waar afstand gehandhaaf kan word, soos tennis en gholf, mag voortgaan nie.

Related Articles

Back to top button