MunicipalNews

Lisensiekantore sê hulle is vanaf Maandag gereed vir aansoeke

“Ons het ons kantore volgens streng maatreëls voorberei en die kantoorblokke in Modimolle en Mookgophong het die inspeksies geslaag.”

Lisensiekantore het die groen lig van die departement van vervoer gekry om weer hul deure op Maandag 1 Junie te open nadat dit weke lank gedurende die grendeltyd gesluit was.

Die voorwaarde is dat streng inspeksies gedoen word en veilige maatreëls moet gehandhaaf word. Alle kantore moet voorbereid wees om die publiek veilig te hou teen die Covid-19-virus.

“Ons het ons kantore volgens streng maatreëls voorberei en die kantoorblokke in Modimolle en Mookgophong het die inspeksies geslaag,” het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, vandeesweek aan Die Pos gesê.

Alle lisensies, insluitend leerlinglisensies, tydelike lisensies, voertuiglisensies, tydelike permitte en padwaardigheidsertifikate wat tussen 1 Maart en 31 Mei vanjaar verval het, is steeds geldig.

Die geldigheidstydperk is met 90 dae verleng, het Van Staden bevestig.

“Inwoners moet asseblief onthou dat ons die afstand van 1-2 m tussen besoekers moet handhaaf, daarom sal die aantal besoekers wat die kantoor binnekom, beperk word en daar kan dus ’n langer wagtydperk wees.”

Sy het inwoners aangeraai om vir eers net dringende sake te gaan afhandel.

“Stel eerder jou besoek uit na ’n later geleentheid wanneer die las ligter is,” het sy inwoners aangeraai.

Kabelo Mosito, woordvoerder van die Bela-Bela-munisipaliteit, het in reaksie gesê die meeste munisipale dienste en afdelings sal weer vanaf Maandag 1 Junie normaalweg funksioneer.

Die verkeersafdeling in Van der Merwestraat het volgens hom ook teen druktyd die groen lig gekry om hul werksaamhede te hervat.

Hy het gesê streng Covid-19-maatreëls, soos sosiale afstande en higiëne, sal by alle munisipale departemente toegepas word.

Related Articles

Back to top button