LettersOpinion

Ons mis ons gawe haarkappers!

Ons sit almal letterlik met ons hande in die hare omdat haarkappers en mense in die skoonheidsbedryf steeds nie op vlak 3 van die inperking mag werk nie.

Omgekrapte inwoner, Modimolle, skryf:

Noem my belaglik, selfs onnosel of drakonies (’n nuwe woord tot my woordeskat) maar ek is diep beswaard oor die huidige stand van sake.

Ons sit almal letterlik met ons hande in die hare omdat haarkappers en mense in die skoonheidsbedryf steeds nie op vlak 3 van die inperking mag werk nie.

Die afgelope naweek trek ek Die Pos met genoegdoening nader en is dadelik opgewonde oor die advertensie op die voorblad wat lui: “We groom with gentle loving care.” Ek het aanvanklik gedink die regering het tot hul sinne gekom en besef hoe belaglik dit is om dié klein ondernemings van hul enigste inkomste te beroof.

Maar, helaas, met my leesbril op moes ek enkele bladsye verder lees hoe swaar kry ons haarkappers. Mariaan, Lilanie, Christine, Suzanne, Eugene en ander wie se name nie genoem is nie, my hart bloei vir julle. Hierdie pandemie raak elke persoon in Die Pos se lesersgebied op verskillende maniere.

Ons hou die media met arendsoë dop om die positiewe uitslag van die hofsaak oor haarkappers te verneem sodat jul weer ’n geregverdigde bestaan kan maak en vir ons ’n noodsaaklike diens kan voorsien. Ons sal julle ten volle ondersteun, want julle skep ’n gemeenskap van versorgde mense.

Herman Steyn, Die Pos se fotograaf, is ook deur die grendeltyd beperk. Ons Kokanje-inwoners verlang na hom.

Dankie aan Die Pos se personeel wat ons steeds op hoogte van sake hou en ons belange op die hart dra.

Related Articles

Back to top button