Local newsNews

‘Beëindig die inperking,’ pleit plaaslike haarkapper

“Ons bedryf kry ontsettend swaar. Al my werkers is afhanklik van hul salarisse. ’n Beleid van geen werk, geen betaling geld ongelukkig.”

Suzanne Kotzé, eienaar van Bela Vino-haarsalon in Bospoort in Bela-Bela, sê die nasionale inperking raak hulle gesin uiters negatief.

Haarkappers is steeds verbied om te werk.

“Ons bedryf kry ontsettend swaar. Al my werkers is afhanklik van hul salarisse. ’n Beleid van geen werk, geen betaling geld ongelukkig. My kliënte bel gereeld en sê hoe dringend hul ’n haarsny of -kleur nodig het,” het Kotzé aan Die Pos gesê.

Volgens haar is die meeste haarsalonne selfs vóór die inperking op uiters higiëniese grondslag bedryf. “Daar is nog altyd op higiëne gelet en van antiseptiese skoonmaakmiddels gebruik gemaak. Werkstasies en toerusting is ná elke besoeker ontsmet.”

Sy voel die inperking op salonne moet so gou moontlik gelig word. “Die voorskrifte vir ontsmetting kan opgeskerp word, maar die bedryf moet toegelaat word om te werk.”

Kotzé het gesê hul gesin is veral swaar getref, want haar man, Dawie, het ook geen inkomste tydens die inperking nie. Hy is die eienaar van die Langplaas-restaurant wat ook hul deure tydelik moes sluit ingevolge die inperkingsmaatreëls.

“Ons is wel geseënd, want ons het ’n dak oor ons kop en kos om te eet. Ons Vader is groot en Hy kyk na Sy kinders.”

“Ek verlang na al my kliënte en waardeer elkeen se uniekheid nou meer. Hulle is spesiaal. Ek vertrou dat dié sinnelose inperking gou beëindig sal word en dat ek my kliënte gou weer kan bedien.”

Related Articles

Back to top button