Local newsNews

Haarkappers sit met die hande in die hare tydens inperking

“Dit is veral die ouer mense wat swaarkry. Vir van ons bejaarde kliënte was die een keer per week by die haarkapper ’n belangrike kontak met die buitewêreld wat nou beëindig is.”

Die behendige klap van skêre langs ore verby en netjiese kapsels wat ons veel mooier en jare jonger laat lyk, is sedert Vrydag 27 Maart en die aanvang van die landswye grendeltyd iets van die verlede.

Haarkappers is een van die dienste wat volgens regulasies eers weer op vlak een mag hervat. Salon-eienaars sê dié maatreëls het hulle hard getref en dat hulle en hul personeel moet raap en skraap om elke maand deur te kom.

“Ek ken so baie haarkappers van oraloor wat enkelouers is — ek weet nie hoe hulle nou sonder inkomste oorleef nie,” het Nici Stolp, eienaar van Creative Hair in Modimolle, gesê.

Sy het gesê dit is ’n baie moeilike tyd.

“Ons uitgawes is steeds dieselfde en moet betaal word, maar daar is geen inkomste om die balansstaat te laat klop nie. Ons het nog nie geld van die werkloosheidsversekeringsfonds gekry nie en ons het ons werknemers die minimumloon betaal sodat hulle darem kan oorleef. Ons is vier mense wat hierdeur geraak word.”

 

Danielle Sadler en Amanda Meyer van Salon Amelia in Modimolle is reeds besig om veiligheidsmaatreëls te tref vir wanneer hul salon weer sy deure kan open.

 

Volgens haar kry sy baie oproepe van haar kliënte. “Dit is veral die ouer mense wat swaarkry. Vir van ons bejaarde kliënte was die een keer per week by die haarkapper ’n belangrike kontak met die buitewêreld wat nou beëindig is. Hulle is alleen en mis die geselskap. Ek kry ook baie benoude oproepe van mense wat uit moedeloosheid self wil hare kleur en raad vra. Ons gaan dié kleursel maar moet regdokter as ons weer oopmaak!”

Sy het gesê hoewel verskeie mense al gevra het dat sy hul hare tydens die grendeltyd sny, is die risiko te groot en sy wil nie die reëls oortree nie.

Amanda Meyer van Salon Amelia beaam dat dit ’n taai tyd vir die bedryf is. Sedert vlak vier op Vrydag 1 Mei ingestel is, mag salonne wel haarprodukte verkoop. “Dit is egter ’n druppel aan die emmer en beteken niks nie,” het sy gesê. Die salon het nege mense wat daar werk, maar net vier kon werkloosheidsversekering eis. “Die res werk op kommissie — as ’n mens nie kan werk nie, kan jy nie die verwagting van ’n inkomste hê nie.”

Volgens Meyer stuur hul kliënte vir hulle boodskappe dat hulle moet moed hou. “Ons is reeds besig met voorbereidings vir wanneer ons die salon weer kan open. Ons het plastiekgordyne tussen die stoele gesit, skerms opgerig en gesigmaskers aangeskaf. Gelukkig is hande was tussen kliënte reeds vir ons tweede natuur. Ek dink darem nie ons is te erg bloot gestel nie, omdat ons meestal agter die kliënte werk, maar ons sal soveel moontlik veiligheidsmaatreëls tref om ons kliënte en onsself te beveilig,” het sy gesê.

Herman Niewenhuis, eienaar van Studio H in Modimolle, het gesê hy het geen inkomste in die eerste drie weke van die inperking gehad nie. “Ná drie weke kon ek ’n permit kry om produkte te verkoop, maar my onderneming se inkomste het met meer as die helfte geval.”

“Dit raak al my werknemers, want hulle kon nie hul volle salarisse ontvang nie. Die werkloosheidsversekeringsfonds het darem ’n groot gedeelte daarvan betaal,” het hy gesê.

“Ons kliënte verstaan die omstandighede en is bewus van die gesondheidsgevaar, maar hulle en ons voel dat hierdie industrie geïgnoreer word. Dit speel ’n groot rol in ons land se ekonomie.”

  • ’n Aansoek dat haarkappers weer mag werk word op ’n dringende grondslag op Woensdag 27 Mei in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor en talle salonne hoop dat die uitslag in hul guns sal wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button