Local newsNews

Hartseer afskeid ná jong man sterf

’n Jong man van Modimolle se familie en vriende het hartseer van hom afskeid geneem nadat hy onverwags in sy slaap oorlede is.

Die 25-jarige Wiets Viljoen, ook bekend as Wibo, is op Maandagoggend 27 April oorlede.

Hy het die afgelope drie jaar by Express Wireless/Herotel Wi-Fi-installeerders in die dorp gewerk. Sy geliefdes het weens die inperkingsbevel in die land via ’n direkte Facebook-diens by die Modimolle Holiday Resort van hom afskeid geneem. Die diens is opgeneem op die Facebook-blad “Wibo/Wiets Viljoen celebration of life”.

“Baie mense het by dié geleentheid getuig hoe hy hulle lewens aangeraak het. Hy het met sy stralende persoonlikheid, humor, onvoorwaardelike liefde en onbaatsugtige diens baie harte oopgesluit,” het sy ma, Lourin Viljoen, aan Die Pos gesê.

“Baie dankie vir elkeen se omgee in hierdie bitter moeilike tyd in ons lewe. Kos is afgelewer, baie boodskappe en oproepe is ontvang en mense het selfs geldelik gehelp,” het sy gesê.

Die gesin vind groot vertroosting in ’n visioen wat ’n vriendin, Michele Pulford, van hom op die dag van sy dood gesien het. Sy het gesien waar hy aan Jesus se voete sit en die kroon van geregtigheid wat hy op het, teruggee. Hy het gevoel dat hy gefaal het. “Jesus het sy kop opgetel en die kroon teruggesit. Hy het Wibo verseker dat niks ’n wig tussen Jesus se liefde en hom kon dryf nie,” het sy gesê.

Viljoen laat sy ouers, Albert en Lourin, sy broer, Jandré, en suster, Cara, asook sy vriendin Ger-Marie de Beer agter.

Related Articles

Back to top button