Local newsNews

As jagbedryf swaartrek, raak dit almal

“Die bedryf het heeltemal tot ’n stilstand gekom en die impak daarvan is baie groot.”

Die skade wat die inperking weens die Covid19-virus die jagbedryf aanrig, beloop miljarde rande.

Die bedryf en die uitdun van wild dra ongeveer R19 miljard by tot die land se ekonomie.

Pieter Potgieter, aangewese president van die Suid-Afrikaanse beroepsjagtersvereniging (Phasa), sê dat daar op vlak vier van die inperking geen buitelandse jagters óf plaaslike biltongjagters is wat ’n geweer mag lig nie.

“Die bedryf het heeltemal tot ’n stilstand gekom en die impak daarvan is baie groot.”

Die jagbedryf is fyn verweef met die ekonomieë van baie plattelandse dorpe regoor die land. Talle kleiner ondernemings maak staat op inkomste wat hulle uit hierdie bedryf maak. Dit sluit onder meer ondernemings soos motorhandelaars, gastehuise, slaghuise, taxidermies, looierye, internetdiensteverskaffers, jagwinkels, klerewinkels, uitvoeragente en speserywinkels in.

“Phasa se 3 000 lede verskaf werk aan sowat 7 500 direkte arbeiders en ons 1 100 plaaslike lede aan ongeveer 13 200 indirekte arbeiders. Ongeveer 60% van hierdie werkers moes afgelê word,” het Potgieter gesê.

“Werknemers op wildsplase word ook hard hierdeur getref. Baie verdien ’n basiese salaris, maar ontvang fooitjies van buitelandse jagters, asook van die vleis van die bokke wat jagters skiet. Skielik is die fooitjies én die vleis weg en van die werkgewers moes noodgedwonge van die werkers se basiese salarisse verminder of selfs halveer. Baie van die werknemers op plase is ook verminder.

“Van die wildsboere skiet wild sodat die mense darem nog ’n bron van proteïene het,” het Potgieter gesê. Hy boer op Dwaalboom buite Thabazimbi.

“Die koop en verkoop van wild het feitlik tot stilstand gekom en pryse het drasties geval,” het hy gesê. “Dit help nie om bokke te teël as die eindverbruiker, die jagter, nie meer daar is nie.”

Die vereniging het op Dinsdag 19 Mei met Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye ontmoet om die opening van die jagbedryf, en ook die wildbedryf in die algemeen, te bespreek. “Phasa wil graag die minister bedank vir haar harde werk en simpatieke oor vir die bedryf en sy uitdagings. Ons hoop dat ons tydens vlak 3 aan beperkte jagaktiwiteite kan deelneem,” het Potgieter gesê.

Die vereniging voel ook die geldsake druk. “Ons is besig met ’n luiperdnavorsingsprojek en ’n plaaslike motorhandelaar wat ons altyd ruimskoots ondersteun, is só deur die krisis geraak dat hulle nie soveel kan bydra as wat hulle wou nie. Vir so ’n projek is kontinuïteit uiters belangrik.”

Die vereniging ondersteun verskeie welsynsorganisasies soos die Abraham Kriel-kinderhuis en Solidariteit Helpende Hand se Helpjag-veldtog wat jagters aanmoedig om op ’n etiese wyse te jag en die vleis te skenk sodat kos aan behoeftige kinders verskaf kan word. Dié projekte is nou nodiger as ooit. Die sanger Adam Tas en oudrugbyspeler Bakkies Botha is betrokke by hierdie projek.

Related Articles

Back to top button