Local newsNews

Eiendomsmark sal aanpassings moet maak, sê Fred

“Ons verwag dat eiendomme se pryse met 15-20% sal verminder en verkopers sal hulself moet staal daarvoor.”

Die aktekantore is dalk weer oop vir sake, maar die eiendomsmark sal nog ’n hele ruk neem om te herstel van die negatiewe uitwerking van die koronavirus-pandemie.

Fred van Heerden, prinsipaal van Century 21 in Bela-Bela, het aan Die Pos gesê as agente, kopers en verkopers nie vinnig aanpas nie, voorsien hy swaar tye vir hulle.

“Ons verwag dat eiendomme se pryse met 15-20% sal verminder en verkopers sal hulself moet staal daarvoor. Die markwaarde op eiendomme, soos uiteengesit op die laaste munisipale waardasierol, is waarskynlik die aanbod of verkoopprys wat mense moontlik sal kry; indien nie minder nie.”

Volgens Van Heerden het die wêreldekonomie (die eiendomsmark ingesluit) nie werklik herstel ná die wêreldwye ekonomiese insinking van 2008 nie. Ongeveer 60% van die eiendomsagente het die bedryf sedertdien verlaat, het hy gesê.

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Van Heerden het gesê agente werk meestal vir kommissie en kry nie ’n vaste salaris nie. Dit het tot gevolg dat agente nou tydens die inperking baie swaarkry. Die meeste agente is ook nie geregtig op werkloosheidsversekering nie vanweë die aard van hul aanstellings. Die inperkingstyd is op Vrydag 1 Mei verslap na vlak 4 vir sekere ondernemings om sake te mag doen, maar agente is steeds tot hul wonings beperk.

Van Heerden het die hoop uitgespreek dat onderhandelinge met die regering moontlik daartoe kan lei dat agente reeds in vlak-3 sal kan sake doen.

Hoewel die eiendomsmark slegs ongeveer 5% tot die bruto binnelandse produk bydra, meen Van Heerden dat die eiendomsmark tog die land uit sy resessie kan help. Die eienaars wat kontantvloei probleme ondervind sal geen ander keuse hê nie as om eiendomme te verkoop.

“Die eiendomsmark sal wel nuwe kopers na vore sien kom. Die verwagting is dat kopers tot 35% goedkoper vir eiendomme sal betaal. Ek verwag dat maandelikse paaiemente gunstige bedrae vir kopers sal beteken en meer mense in die mark sal wees vir kleiner eiendomme,” het hy gesê.

“Mense wat voor die inperkingstyd vir verbande aansoek gedoen het, sal natuurlik weer herevalueer word. Verkopers moet in gedagte hou dat die markwaarde nou laer sal wees.”
“Ons het reeds vergunnings toegestaan aan kommersiële sakelui van Bela-Bela wat finansieel sukkel. Dit is belangrik om aan te hou om ooreenkomste te sluit terwyl die inperking voortduur, al verloor agente, eienaars en sakelui inkomste,” het Van Heerden gesê.

“Daar is soveel sektore en industrieë wat van die eiendomsmark afhanklik is. Munisipaliteite sal ook aanpassings en vergunnings moet maak en sake herorganiseer as hulle wil hê dat die plaaslike ekonomie moet staande bly.”

Van Heerden reken die toekoms van die eiendomsmark sal eers oor die volgende drie tot vier maande duideliker raak.

“Intussen moet agente steeds professionele dienste lewer, verdere opleiding oorweeg en aanpassings maak.”

 


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button