CrimeNews

Bela-Bela-inwoners vies oor ‘grondgryp’

Vermeende grondgryp-voorvalle in die Koppewaai-omgewing, op die Alma-pad net buite Bela-Bela, het inwoners en dorpsbestuur die harnas in.

Die eerste voorval was op die Alma-pad, net buite die dorp teenaan die Koppewaai-nedersetting, en die ander het glo aan die westelike kant van Spa Park plaasgevind.

Dit blyk egter dat daar onsekerheid is oor presies wie se grond betrokke is en wie dus verantwoordelik is vir die verwydering van die grondbesetters.

Die Pos het in die verlede herhaalde kere berig oor grondgrype in dié omgewing.

Toe Die Pos die toneel vandeesweek besoek het, was daar geen teken van plakkers nie.

Daar was groot opslae in 2017 in dieselfde omgewing toe ’n groep EFF-lede ook ’n stuk grond probeer onteien het.

Volgens Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, kan die munisipaliteit nie in die jongste geval optree nie, want dit is nie munisipale grond waarop daar erwe skoongemaak word nie.

“Ons hande is afgekap want dit is grond in privaat besit. Die munisipaliteit het geen reg om vir ’n uitsettingsbevel aansoek te doen nie, tensy die eienaar ons nader vir hulp,” het hy gesê.

“Ons glo die eienaar is bewus van dit wat tans op sy grond gebeur en ons is bekommerd dat hierdie situasie ander inwoners se privaatheid en veiligheid kan skend.”

Tinus Ras, DA-raadslid vir wyk 1, het aan Die Pos gesê sover vasgestel kan word behoort die stuk grond op die Alma-pad  aan die eiendomsmagnaat, Steve Bosch. Die deel in Spa Park behoort aan die plaaslike sakeman, Fred van Heerden.

Bosch, ’n sakeman van Polokwane, het die afgelope paar jaar van die eiendomstoneel verdwyn. Geen van sy beskikbare ou nommers word beantwoord nie en niemand by die plaaslike munisipaliteit, polisie of DA-tak kon aan Die Pos enige besonderhede oor hom verskaf nie.

Van Heerden het in reaksie aan Die Pos gesê daar is tans geen plakkery op sy grond nie. Sover sy kennis strek behoort die ander stuk grond waarop daar ’n poging tot grondbesetting was, egter steeds aan die munisipaliteit en is dit in ’n stadium geoormerk vir ’n retensiedam. Die beplande projek sou toesien dat die stormwaterprobleme in hierdie gebied, wat Tuintuiste-aftreeoord in
sluit, verminder, het Van Heerden gesê.

Ras het gesê hy is bekommerd oor beweerde plakkery en het onderneem om die saak onder die aandag van die munisipale bestuurder, Sello Makhubela, te bring. Sover vasgestel kan word, is geen klagtes by die polisie gelê nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button