NewsSchools

Bly positief, al is dit maar bitter moeilik

“Ek glo dat God in beheer is. Selfs al verstaan ek nie wat nou gebeur nie, is daar ’n doel daarmee.”

Elf jaar lank swoeg leerders om die kroon van hul skoolloopbaan te bereik — hul matriekjaar.

Dit is ’n jaar van harde werk, die begin van grootmenswees en uitsien na ’n matriekafskeid om hul skoolloopbane mee af te sluit.

Die matrieks van 2020 se skooljaar is egter wreed en onverwags omvergegooi deur die grendeltyd wat vanweë die Covid-19-virus ingestel is.

Die Pos het by Alicia Oberholzer, hoofmeisie van Hoërskool Nylstroom, gehoor hoe sy dié tyd ervaar.

Haar grootste uitdaging, sê sy, is om positief te bly.

“Ek probeer my kop oplig en positief dink, al is dit dikwels moeilik. My matriekjaar is regtig iets waarna ek uitgesien het. Ek wou goed doen in my sport- en kultuuraktiwiteite. Dit voel asof baie dinge van my weggeneem is. Ek wou graag ’n goeie netbaljaar gehad het en het hard gewerk daarvoor, maar daardie droom is nou tot niet.

“Die eindeksamen lê soos ’n berg voor my. My beplande studierigting vereis goeie resultate en hoewel ek hard selfstudie doen, is dit vir my erg dat ons so baie klastyd mis. Dit verg baie selfdissipline om tuisonderrig te doen. Die onderwysers het vir ons vraestelle gestuur om ons voor te berei vir die matriekeksamen en vraestelfiks te kry.

“Ek is glad nie bekommerd oor die matriekafskeid nie. Ek glo dat ons onderwysers op een of ander manier ’n plan sal maak om iets spesiaals vir ons te doen. Van my vriende is baie pessimisties en glo dat dit afgestel gaan word.

“Ek mis die persoonlike interaksie met ons onderwysers. Ek mis dit om saam met vriende grappies in die klas te maak. Die lewe voel nou so doodernstig — met goeie rede, maar ons het humor ook nodig.

“Ek het troos gevind in Jesaja 55:9 (“Soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes.”

“Ek glo dat God in beheer is. Selfs al verstaan ek nie wat nou gebeur nie, is daar ’n doel daarmee. Ek ervaar dit dat die pandemie ons almal dwing om stil te staan en nie teen 360 km/h verby Hom jaag nie. As my matriekjaar die opoffering is wat ek moet maak, is dit die moeite werd. So baie van ons jongmense is besig met verkeerde dinge — dit is tyd dat ons stilstaan en besef die lewe is groter as dit wat ons sien.

“Ek stel glad nie belang om in 2021 weer my matriekjaar oor te doen nie. Ek wil aanstaande jaar in Tuks se banke sit en begin studeer. Dit is hierdie doel wat my dryf om hard te werk en hoop te hê vir die toekoms,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button