Local newsNews

Remme knars voor bus deur heining bars

’n Sementversperring teen die huis se muur het die bus se vaart gekeer en dit het letterlik sentimeters van die badkamermuur tot stilstand gekom.

’n Inwoner van Eerstelaan in Thabazimbi het op Donderdag 7 Mei die skok van haar lewe gekry toe ’n bus deur die erf waar sy woon se heining gebars en sentimeters van die huis tot stilstand gekom het.

Hester Gouws het aan Die Pos vertel sy het vroegmiddag gehoor hoe ’n bus in Hospitaalstraat opry. Sy het daarna die bus se trurat-alarmpie gehoor afgaan.

Sy kon nie die bus van die voorkant van die huis sien nie en het omgeloop na die kombuisdeur waar sy deur die heining kon sien dat die busbestuurder daarin geslaag het om die bus in ’n beperkte ruimte om te draai en dat die bus weer met sy neus in die afdraande-rigting gestaan het.

 

Hester Gouws het die ongeluk sien gebeur.

 

Die passasiers het intussen uitgeklim en dit is toe dat sy die knarsgeluid van die remme gehoor het.

Die volgende oomblik was daar ’n groot lawaai en is die bus tussen twee maroelabome deur, oor die sypaadjie, deur die erf se heining en dit het voor haar oë op die huis afgepyl. ’n Sementversperring teen die huis se muur het die bus se vaart gekeer en dit het letterlik sentimeters van die badkamermuur tot stilstand gekom.

“Daar was ’n onnatuurlike stilte ná die groot lawaai en ’n enkele persoon het uit die bus geklim.”

Gouws het aangeneem dat dit die bestuurder was, maar op haar vraag aan hom het hy gesê dat die bestuurder buite die bus is.

Sy het gesê ’n ambulans het later ’n beseerde persoon, vermoedelik die busbestuurder, van die toneel verwyder.

Teen druktyd kon Die Pos geen verdere inligting oor die ongeluk bevestig nie.

Die bus, wat glo deur Thaba Trans aan ’n myngroep uitgekontrakteer is, het vermoedelik mynwerkers vervoer wat tydens die grasietydperk vanaf hul wonings teruggekeer het om hul werk by die myn te hervat. Die werkers is na hul behuising gebring vir ’n kwarantyntydperk.

Die Pos verneem dat die bestuurder van die bus nie een van Thaba Trans se bestuurders was nie, maar ’n werknemer van die myngroep.

Toe Die Pos die toneel besoek het, was Thaba Trans-personeel besig om die bus met behulp van twee vragmotors uit die erf te verwyder.

Related Articles

Back to top button