Local newsNews

Nog geen pad huis toe vir Modi-egpaar in Viëtnam

“Ons probeer fokus op die positiewe in ’n situasie waaraan ons niks kan verander nie.”

’n Predikantspaar van Modimolle se besoek aan hul dogter in Viëtnam het ’n onverwagse kinkel gekry toe inperkingsmaatreëls wat inderhaas wêreldwyd toegepas is, hulle verhoed het om terug te keer huis toe.

Danie en Marietha Ueckermann het hul dogter, Madia, wat in Viëtnam skoolhou, op Woensdag 4 Maart besoek en woon sedertdien saam met haar in haar eenmanwoonstel.

Die land se inperkingsmaatreëls is gelukkig nie so streng soos Suid-Afrika s’n nie en hulle het meer vrye beweging.

Danie is ’n leraar aan die NG-gemeente Nylstroom-Oos.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

“Ons het op 16 of 17 Maart gehoor van die beoogde grendeltyd in Suid-Afrika en dat lughawens waarskynlik gesluit gaan word voor ons terugvlug op Dinsdag 31 Maart. Ons het Qatar-lugdiens per e-pos probeer kontak, maar net ’n gerekenariseerde antwoord gekry. Ons het op Saterdag 21 Maart by hul kantoor in DaNang navraag gedoen, maar dit was gesluit met ’n noodkontaknommer teen die deur. Niemand het op ons navrae gereageer nie. Die kantoor was op Maandag 23 Maart oop en die beste wat die lugdiens ons kon aanbied, was ’n terugvlug vanaf Ho Chi Minh-stad (Saigon) op Maandag 30 Maart,” het die egpaar vandeesweek per e-pos aan Die Pos laat weet.

“Ons het dadelik binnelandse vlugkaartjies gekoop om op Sondag 29 Maart vanaf DaNang na Ho Chi Minh te vlieg. Die volgende dag het ons op die lugdiens se webwerf gesien dat die vlug van Doha na Johannesburg gekanselleer is en ons het besef dat ons in Doha gestrand sou wees indien ons daarheen vlieg. Ons het besluit om eerder in Viëtnam in ons dogter se woonstel gestrand te wees as op Doha-lughawe of in ’n noodblyplek waarvoor ons waarskynlik baie geld sou moes betaal,” het die Ueckermans gesê.

Qatar-lugdiens het kort daarna al hul vlugte na Viëtnam gekanselleer. Die egpaar kon ook nie terugbetaling kry vir die binnelandse vlugte wat hulle reeds bespreek het nie.

Die volgende hekkie was om hul Viëtnamese visums, wat slegs tot Saterdag 4 April geldig was, te verleng. Grendeltye het die hernuwing bemoeilik en ’n agent kon ten duurste ’n twee maande verlenging bewerkstellig.

“Ons hoop dat ons die land voor Donderdag 4 Junie kan verlaat. Ons hoor diegene met vervalsde visums word nie toegelaat om die land te verlaat nie en in hegtenis geneem,” het hulle per e-pos gesê.

“Ons hande voel afgekap. Dit lyk asof ons enigste manier om by die huis te kom, is as die ambassade ’n repatriasievlug gereël kan kry. Die kostes beloop R15 000 per persoon. Ons hoop dat dit voor einde Mei kan realiseer.”

Ten spyte van die spanning wat die onsekerheid meebring, geniet die Uekermanns Viëtnam se kleurvolle woonbuurte, oop strande en asuurblousee.

“Ons probeer fokus op die positiewe in ’n situasie waaraan ons niks kan verander nie. Die grendeltyd hier is op Woensdag 22 Apil opgehef en ons kan op die strand stap en in die see swem. ’n Groot bederf was dat ons die geleentheid gehad het om Cham-eiland vir twee dae te besoek. Ons is bly dat ons langer tyd saam met ons dogter kon deurbring, al is ons drie mense in ’n eenmanwoonstel.”

“Ons kon ook meer van die Viëtnamese mense en hul kultuur beleef en hulle is baie vriendelik. Ons kry die indruk dat familie belangrik is. Soms ry ’n hele gesin van vyf mense saam op ’n bromponie … sonder om ’n oog te knip!

“Ons is dankbaar vir die omgee, besorgdheid en liefde wat ons ervaar van vriende en ons familie in Christus. Bid asseblief vir ons landgenote in Viëtnam wat ernstige finansiële nood ervaar,” het hulle gesê.


Baie dankie aan Nylstene sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button