Local newsNews

Hou breine flink tydens grendeltyd

Die grendeltyd is die ideale tyd om “breinoefeninge” te doen, reken ’n skaakspeler met wie Die Pos die afgelope week gesels het.

Jonita Coetsee, ’n skaakafrigter van Bela-Bela, sê skaak is ’n uitstekende manier om die brein te stimuleer.

“Die spel laat spelers vooruit dink — iets wat ’n mens ook goed te pas kom wanneer jy in die regte lewe belangrike besluite moet neem of in gevaarlike situasies uitgedaag word.”

Coetsee, ’n voormalige polisiebeampte en lid van die weermag, het ses jaar lank kinders in die Hammanskraal-omgewing geleer skaak speel en beoog om eersdaags klasse in Bela-Bela te begin aanbied.

Van haar oudleerders het provinsiale kleure behaal en ook aan die Suid-Afrikaanse-kampioenskap deelgeneem.

“Ek het destyds ’n leerder gehad wat 40% vir wiskunde behaal het. Nadat sy vir ’n termyn skaak gespeel het, het sy 75% vir matriekwiskunde behaal. Sy studeer tans biokinetika aan die Universiteit van Noordwes in Potchefstroom.”

Coetsee meen daar is geen twyfel dat skaak mense, en veral jong leerders, se breinvermoë ontwikkel nie. Sy sê navorsing toon dat mense wat gereeld skaak speel, vinniger dink en reageer as nie-skaakspelers.

“Daar is vir elke skuif in skaak ongeveer 2 500 tot 3 000 moontlike opsies wat die speler kan oorweeg.

“Dit leer kinders om oplettend te wees, doelwitte binne ’n kort tyd te stel, ander se bewegings vooruit te bepaal en hoe om konflik te hanteer.”

Volgens haar kan mense met gemoedsversteurings soos bipolêre depressie of verslawings ook by skaak baat.

Volgens haar is die grendeltyd die ideale tyd vir gesinne om die skaakborde nader te trek en hul breine aan die werk te sit.

Related Articles

Back to top button