Local newsNews

Geen voertuie om te was nie

David Stratford van Mookgophong kon sedert die begin van die inperkingsbevel nog nie een voertuig by sy karwasonderneming was nie.

Volgens hom is sy uitgawes ongeveer R28 000 per maand, waarvan hy nie ’n sent kon verdien nie. Die onderneming het ses werkers wat nou ook sonder ’n inkomste is.

“Ons het hulle ’n week se salaris vooruit betaal en van kos voorsien, want almal moet leef,” het hy aan Die Pos gesê.

Die onderneming mag sy deure ingevolge wetgewing eers tydens vlak 2 van die inperking open. Stratford het aan Die Pos gesê hy moes steeds sy huurgeld, wat R7 500 per maand beloop, betaal al het hy geen inkomste verdien nie.

Hy het ook ’n ander onderneming aan die KwaZulu-Natalse kus wat ook tans ingeperk is. Stratford is ’n kankerlyer en volgens sy verloofde, Adele de Beer, probeer hulle tans net om die paaiement vir sy mediese fonds aan te hou betaal sodat hy kan volhou met sy nodige behandeling.

“Ons sukkel om positief te bly, aangesien ons werklik geen inkomste het nie. Sedert 15 Maart totdat die inperking op 27 Maart begin het, het ons maar drie voertuie per dag gewas, wat nie eens genoeg is om die lone te betaal nie. Volgens inligting wat ons bekom het, kan die vlak -2-inperking moontlik eers in Augustus aanbreek. Dit sal ons ontsettend negatief raak,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button