Local newsNews

Virusgevalle in Waterberg laag

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Hoërskool Menlopark.

Terwyl al hoe meer mense landwyd positief vir die Covid19-virus toets, slaak Waterbergers (vir eers) ’n sug van verligting.

Die infeksie- en sterftesyfer in die provinsie bly laag in vergelyking met dié van ander provinsies. Teen Sondagaand 26 April was 4 546 mense in Suid-Afrika met die virus besmet en is 87 mense daaraan dood.

Limpopo het teen vandeesweek 30 gevalle van Covid-19 gehad met 24 mense wat herstel het en twee wat gesterf het. Daar is tans slegs vier aktiewe gevalle, het dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid, in ’n verklaring gesê.

Twee nuwe gevalle is die afgelope paar dae bevestig. Die een geval is van ’n 52-jarige manlike onderwyser van die Groter Giyani-gebied in die Mopani-distrik. Hy is volgens die departement onlangs in ’n privaat hospitaal in Gauteng opgeneem en is op Maandag 6 April ontslaan. Diegene waarmee hy in kontak was, is opgespoor. Hy is in isolasie en sy toestand is stabiel.

Die eerste geval in die Sekhukhune-gebied (Groblersdal) is ook aangeteken. Dié 55-jarige man se nadoodste ondersoek het getoon dat hy die virus gehad het. Die man was glo ’n vryskutwerker in die filmindustrie in Kaapstad en ’n tradisionele geneser. Volgens die LUR het die man siek geword terwyl hy in die Kaap was en sy seun het hom op Woensdag 15 April per motor terug na die provinsie gebring sodat hy self ’n tradisionele geneser kon raadpleeg. Sy toestand het op Maandag 20 April versleg en hy is na ’n privaat dokter geneem waar hy ’n halfuur later oorlede is.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

“Die spreekkamer is deur een van ons spanne ontsmet en al die man se kontakte is opgespoor en getoets. Die dokter en sy vyf werknemers is ook getoets en onder kwarantyn geplaas. Ons betoon ons diepste meegevoel aan die man se familie,” het Ramathuba gesê. Sy het gewaarsku dat stigma en teistering van mense wat positief toets, veral in Lebowakgomo, ’n distrik suidoos van Polokwane, kop uitgesteek het. “Ons het gesien dat gemeenskappe mobiliseer en dat politieke partye mense opsweep om op te tree teen ’n bejaarde vrou wat positief getoets het nadat haar man gesterf het.”

Die gevalle per distrik lyk tot dusver as volg: Capricorn het 10 gevalle aangemeld met nege in Polokwane en twee in Lepelle Nkumpi, die Waterberg het 10 gevalle gehad waarvan vyf in Lephalale, drie in Mogalakwena en twee in Modimolle was. Vhembe het ses gevalle aangeteken waarvan vier in Thulamela en twee in Makhado was. Mopani het drie gevalle gehad met een geval in Baphalaborwa, een in die Groter Tzaneen-gebied en een in die Groter Giyani-gebied. Die Sekhukhune-distrik het een geval wat in die Groter Tubatse-gebied is.

Sedert die gootskeepse tuissifting wat op Dinsdag 14 April in die provinsie geloods is, het 9 856 gesondheidswerkers van huis tot huis met vraelyste gegaan. Ramathuba het gesê teen Vrydag 24 April is 800 119 huishoudings besoek en sowat die helfte van die provinsie se bevolking is gesif. Daar is 2 783 mense verwys om getoets te word en 1 770 mense is getoets waarvan een persoon ’n positiewe uitslag gehad het.

“Dit is vir ons duidelik dat die verspeiding van die virus in gemeenskappe nie die grootste uitdaging is nie, maar interprovinsiale verspreiding wel. Ons twee jongte gevalle bevestig dit. Aangesien fabrieke binnekort teen 50%-kapasiteit sal open, sal baie mense vanaf ander provinsies reis. Ons sal almal moet saamwerk om dié pandemie te oorwin,” het sy gesê.


Baie dankie aan Hoërskool Melopark sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button