LettersOpinion

Vandalisering van skole wek kommer

Miljoene mense in Suid-Afrika het reeds daagliks van die hand na die mond geleef. Daardie inkomste is deur die grendelperiode afgesny.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Basiese onderwys, skryf:

Die vandalisering van skole is een van die mees vernietigende verskynsels van die grendeltyd.

Dit kan deels aan armoede toegeskryf word wat vooraf al akuut was en deels aan die oorgeërfde kultuur uit die ANC se magstryd dat skole ’n plek is waarop gemeenskappe hul frustrasies kan uithaal.

Miljoene mense in Suid-Afrika het reeds daagliks van die hand na die mond geleef. Daardie inkomste is deur die grendelperiode afgesny.

Kospakkiedienste kan nie in elke afgeleë gebied gelewer word nie en mense gaan tot desperate stappe oor. Skole het oor die algemeen uitgestrekte gronde en is moeilik om doeltreffend te beskerm. Boonop bevat dit elektroniese en ander toerusting, wat mense hoop om in kontant te kan omsit.

Hierdie verklaring verduidelik egter nie waarom soveel skole op ’n sinnelose manier verniel word nie. Dit moet verder teruggevoer word na die ANC se stryd om die mag in Suid-Afrika oor te neem. Die slagspreuk “liberation before education” het destyds die vernietiging van skole en die ontwrigting van onderwys in ‘n geldige en selfs eervolle manier om die regering teen te staan, omskep.

Intussen het die regering ná 1994 nie die belofte van staatskole as “openbare gemeenskapskole” verwesenlik nie. Pleks daarvan om wanpresterende skoolbeheerliggame met die vermoë toe te rus om hul werk te doen, is gesag toenemend deur provinsiale onderwysdepartemente oorgeneem. Om gemeenskappe op te roep om “eienaarskap” van hul skole te neem, is om gemengde seine uit te stuur.

Terwyl dit noodsaaklik is om skole beter op te pas en diegene wat dit vandaliseer en beroof vas te trek, is dit selfs meer gebiedend dat die staat gemeenskappe werklik in beheer van hul skole moet plaas. Die sentraliserende instinkte van die ANC moet met afwenteling van mag vervang word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button