Die Pos kry al hoe meer boodskappe van inwoners wat woedend is omdat slegs sekere inwoners hulle klaarblyklik aan die nasionale inperkingsregulasies steur.
Die departement van vervoer het op Donderdag 9 April ’n foto uitgereik van ’n man wat deur verkeersbeamptes in die Jane Furse-gebied weens beweerde dronkbestuur aangekeer is.
In Lephalale is ’n man ook vandeesweek in hegtenis geneem omdat hy glo onwettig sigarette verkoop het. Die polisie het op sigaretprodukte ter waarde van R750 000 beslag gelê.
Die verdagte, Lebona Abo (27), het reeds vlugtig in die Lephalale-landdroshof verskyn. Borgtog van R2 000 is aan hom toegestaan en die saak is uitgestel na Junie.
Kapt. Annemarie Smith, speurtakhoof van die Bela-Bela-polisiestasie, het aan Die Pos gesê daar is sedert Woensdag 1 April reeds ongeveer 140 mense in die Bela-Bela-omgewing in hegtenis geneem omdat hulle die inperkingsbevel verontagsaam het.
ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT
Volgens Smith is meer as 100 mense in hegtenis geneem omdat hulle hul wonings sonder ’n geldige rede verlaat het.
Ongeveer sewe het nie die voorgeskrewe hoeveelheid passasiers vervoer nie, terwyl die res aangehou het om hul sakeondernemings se deure oop te hou sonder dat hulle as ’n noodsaaklike diens beskou word, soos uiteengesit in die inperkingsbeleid.
Smith het gesê die mense wat die wet oortree het, het boetes betaal of is aangekla om in die hof te verskyn.
Fikile Mbalula, minister van vervoer, het einde Maart gesê vervoerondernemings moet hul passasiers na 70% van hul vervoerkapasiteit verminder.
Baie dankie aan PEG Electrical sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.