Local newsNews

Boerdery se uitdagings tydens inperking

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Pavecon.

Die landwye inperking het ook sy tande diep in die boerderygemeenskap ingeslaan — selfs al is die verskaffing van voedsel as ’n noodsaaklike diens uitgewys.

Die Pos het met Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus Distrikslandbou-unie (DLU), gepraat oor hoe die inperkings die boere in die omgewing raak.

“Die meeste van die boere in ons omgewing het arbeiders wat vir dié 21 dae aanbly in hul behuising op die plase, maar die handhawing van dissipline bly ’n groot uitdaging. Ander, wat in die verlede van dagloners gebruik gemaak het wat heen-en-weer vervoer moes word, het weer ander uitdagings,” het hy gesê.

Volgens Booysen het die wildbedryf en jagbedryf so te sê tot ’n stilstand gekom en daarmee saam ook besprekings by wildsplase en jagkampe. Hy het gesê dié situasie het ’n reuseinvloed op alle vlakke van die bedryf en veral ook die toerismebedryf in die Waterberg.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Veeveilings mag steeds gehou word, maar slegs beeste wat dadelik in die waardeketting opgeneem kan word, mag verkoop word. “Boere mag nou nie meer ’n koei en kalf verkoop nie en dit skep probleme. Wildveilings, losgoedveilings op plase en stoetveeveilings is stopgesit,” het hy gesê.

Die voorrade by die koöperasies raak ook minder en verskaffers van noodsaaklike onderdele se deure is gesluit, wat weer ’n invloed op volhoubare boerdery het. Maatskappye wat gif soos onkruiddoders versprei, doen ook nie meer tydens normale ure sake nie en dit beteken dat dié stowwe nie altyd maklik bekombaar is nie.

Produsente sukkel voorts om hul produkte te lewer, aangesien plekke waar hulle normaalweg gelewer het, nie meer normale ure sake doen nie. Dit veroorsaak dat oeste verlore gaan.

“Dit het ’n reuseinvloed op boere se kontantvloei,” het Booysen gesê.

Die inperking van landelike veiligheidsgroepe en hul patrollies wek ook groot kommer vir die boerderygemeenskap.


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button