CrimeNews

Oppas vir koronaskelms en fopnuusvrate

Skelms en mense wat fopnuus versprei is blykbaar albei in hul noppies terwyl die res van die wêreld gebuk gaan onder streng inperkingsmaatreëls te midde van die wêreldwye koronakrisis.

’n Stemboodskap is vanoggend (Vrydag) wyd in Die Pos se lesersgebied versprei waarin daar gesê word dat ’n groep mense, wat voor­ge­gee het dat hul­le men­se vir die ko­ro­na­vi­rus (Covid 19) toets, op ’n sakeonderneming in Bela-Bela toegeslaan het.

Die de­par­te­ment van ge­sond­heid, as­ook pri­vaa­t hos­pi­taal­groe­pe, het reeds vroeër die week aan Die Pos be­ves­tig dat hul­le glad nie diens­te aan­bied waar mense by hul wo­nings of sakepersele vir die vi­rus getoets word nie.

Daar is voorheen gesê dat dié mense moontlik booswigte is wat op hier­die wy­se toe­gang tot men­se se eien­dom­me probeer verkry om ’n mis­daad te pleeg.

In die stemboodskap word die sakeonderneming as “Bell’s Up­hol­ste­ry in Bela-Bela” uitgewys.

Daar is wel ’n onderneming met die naam Bell’s Upholstery and Canvas Specialists in die dorp, maar die eienaar van dié onderneming, wat in Sutterweg geleë is, het by navraag aan Die Pos gesê hulle deure is reeds in terme van wetgewing gesluit en niemand het hulle ook vandag of enige ander dag met so ’n versoek genader nie.

Internetsoektogte on­der die­self­de naam het meest­al ver­wy­sings in A­me­ri­ka op­ge­le­wer, maar geen an­der sakeon­der­ne­ming in Suid-Af­ri­ka nie.

Die eie­naar van die winkel in Bela-Bela het aan Die Pos gesê hy vermoed die stemboodskap is fop­nuus.

In­wo­ners word steeds deur vei­lig­heids­groe­pe aan­ge­raai om bewus te wees daarvan dat kwaaddoeners nou hard aan die werk is. Mense word aangeraai om die po­li­sie van sulke voorvalle in kennis te stel.

Die Pos raai inwoners aan om asseblief doodseker te maak van die feite voordat hulle boodskappe aanstuur. Die regering het reeds afgekondig dat daar streng opgetree sal word teen mense wat fopnuus fabriseer.

Related Articles

Back to top button