Veeveilings gaan voorlopig voort ter wille van voedselsekerheid
Alle aanduidings is dat veeveilings onder streng voorwaardes voortgaan te midde van die streng Covid 19-maatreëls.
Die regering het onlangs bepaal dat byeenkomste van meer as 100 mense verbied word.
Dit het gevolg nadat die veebedryf skaars herstel het ná ’n maandelange verbod weens die uitbraak van bek-en-klouseer.
Carel Chalmers, afslaer van Vleissentraal Bosveld, het by navraag aan Die Pos gesê veeveilings by die Warmbad-veilingkrale gaan voort, maar dat minder as 100 mense op die perseel toegelaat sal word.
“Ons het reeds kennisgewings by die hekke geplaas met streng maatreëls,” het Chalmers gesê.
Paul van Vuuren (snr.), direkteur van André Kock en Seun-afslaers, het gesê kopers en verkopers moet asseblief nie hul familie of vriende na veilings bring nie om getalle te beperk.
“Die sterilisasiemetodes wat ons tydens die bek-en-klouseerkris by veilingshuise aangebring het, word nou weer opnuut deur besoekers en personeel gebruik,” het Van Vuuren gesê.
Louis Meintjes, president van TLU SA, het in ’n verklaring gesê paniek oor die virus kan erge gevolge vir die landboubedryf inhou.
“Ons wil op geen wyse die indruk skep dat sake soos normaalweg voortgaan nie. Sake is beslis nie normaal nie en ons moet daarvolgens handel.”
“Ons doelwit is om toe te sien dat voedselsekerheid in Suid-Afrika steeds seëvier,” het hy gesê.
TLU SA raai boere intussen aan om hul werkers in te lig hoe die virus versprei en hoe om hulself te beveilig. Boere moet ook toesien dat daar genoeg water beskikbaar is om te was en dat dat sosialisering van werkers absoluut vermy moet word. Hy raai ook boere aan om hul werkers se gesondheidstoestand te moniteer en om kos met ’n langer raklewe vir hulle te verskaf.
Hy het gesê besoekers aan plase moet maskers dra en onberispelike higiëniese praktyke toepas.
Hy het ook gewaarsku teen boosdoeners wat die pandemie kan gebruik om toegang tot plase te kry.
Die departement van gesondheid het reeds gemaan dat hulle glad nie dienste aanbied waar mense by hul wonings vir die virus getoets word nie.
“Die belangrikste nou is om menselewens te beskerm en daarna volg die res,” het Meintjes gesê.”