Nóg ’n verontwaardige inwoner, Modimolle, skryf:
Ek was ietwat teleurgesteld in William van Coller (oudskoolhoof) se brief in Die Pos van 13 Maart.
Dit is na my mening jammer dat so ’n groot geleentheid soos die Bosveld Interhoër, wat uiters suksesvol deur Hoërskool Nylstroom aangebied is, gebruik word om net weer onmin te saai oor die onderwerp van die keuse van skole, wat al holrug gery is.
Die debatvoering van hierdie onderwerp het nog altyd net tot die versuring van verhoudings gelei terwyl daar heeltyd in sirkels geredeneer word en geen klinkklare antwoord bestaan nie. Daarom gaan ek myself daarvan weerhou om in hierdie sirkels betrokke te raak en wil ek graag net die volgende in u midde laat:
Wees asseblief waaksaam om nie die enorme sukses van ’n geleentheid te gebruik om onmin in ’n gemeenskap te saai nie. Dit benadeel albei kante van die munt.
Wees baie versigtig om aannames te maak van sakeondernemings se (on)betrokkenheid in die gemeenskap en plaaslike skole terwyl u duidelik nie oor die korrekte inligting beskik om daardie aannames te staaf nie.
En laastens: Wys my een ouer in ons lesersgebied wat ’n besluit tot nadeel van sy of haar kind sal neem.
Nag ou Grote.