CrimeNews

Man gesoek nadat lusern glo nie afgelewer is

’n Vermeende bedrieër is op die vlug nadat hy glo “die verkeerde vrou kwaad gemaak het”.

Die man, wat deur die Modimolle-polisie gesoek word nadat hy glo ook mense op dié dorp ingeloop het, verkoop glo lusernbale aan boere maar verdwyn sonder dat dit afgelewer word.

Die polisie het die afgelope week gevra dat Stefanus Gerhardus (Stefan) Muller (32) by die Modimolle-polisie of sy naaste polisiekantore aanmeld in verband met die ondersoek. Muller se foto is wyd op sosiale media versprei.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, word ’n middeljarige man gesoek op drie klagtes van bedrog wat glo tussen September 2011 en Februarie 2019 in Modimolle en Randburg gepleeg is, asook ’n aanrandingsklag wat in Modjadjiskloof gelê is. “Die verdagte het voorgegee dat hy lusernbale aan boere wat in droogtetye sukkel, kan lewer. Hy het gevra dat hulle eers ’n deposito betaal, maar het daarna verdwyn sonder dat die lusern afgelewer is,” het Mojapelo gesê.

’n Ontstoke boervrou het haarself op Donderdag 27 Februarie tot sosiale media gewend nadat sy glo ’n deposito van R42 000 betaal het, maar Muller kort daarna verdwyn het. Sy het beweer dat hy ’n vervoermaatskappy se naam gebruik as front wanneer hy boere faktureer. “Ek sal nie ophou voordat ek my geld terug het of tot die verskoning van ’n persoon agter tralies kom nie.

“Hy loop boere al vir meer as twee jaar in en dit klink asof hy wegkom met miljoene rande. In een geval is meer as 10 boere betrokke en ’n totaal van R90 000 is oorbetaal,” het sy op Facebook geskryf.

Haar oorspronklike plasing is bykans 10 000 keer gedeel.

Kort ná haar plasing het sy inligting ontvang oor waar hy hom bevind en 10 ure Brits toe gery om hom te konfronteer. Hier het sy hom met hulp aangekeer, maar hy het glo met hul aankoms by die polisiestasie weggehardloop.

Die vrou, wie se naam weerhou word, het daarna op Facebook geskryf: “Ek gaan beslis nie opgee totdat hy agter tralies sit nie. Hy het die verkeerde tannie ingedoen en gesteel by baie boere wat regtig sukkel in die droogte.”

Enigiemand met inligting kan vir sers. Amanda Rossouw bel by tel. 071 133 8524 of die Crime Stop-nommer by tel. 0860010111 of hul naaste polisiestasie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button