Local newsNews

Tieners op pad na Bela-Bela

Inwoners van Bela-Bela moet hul vere solank regskud vir die groot intog van ongeveer 2 000 tieners

Vier dorpe, een naweek en duisende tieners.

Dit is hoe ’n mens die #Imagine-naweek in ’n neutedop kan beskryf.

Dié Christelike interkerklike uitreikaksie vir tieners word op verskillende plekke regoor Suid-Afrika aangebied waaronder Bothaville in die Vrystaat, Bredasdorp in die Wes-Kaap, Bela-Bela in Limpopo en Jeffreysbaai in die Oos-Kaap.

Inwoners van Bela-Bela moet hul vere solank regskud vir die groot intog van ongeveer 2 000 tieners wat die naweek van 27-29 Maart op die terrein van Hoërskool Warmbad sal saamtrek.

Jongmense wat in die verlede die #Imagine-naweek bygewoon het, kan getuig van ’n lewensveranderende ondervinding. Die tieners word deur jeugleiers bedien en dit is veral deur die musiekbediening dat die jongmense se harte aangeraak word. Inwoners moet maar oorpluisies vir dié naweek aanskaf, want die jongmense draai die volume groot oop tydens dié geleentheid, waarsku die organiseerders.

Verskeie gemeentes in Bela-Bela is tydens dié naweek betrokke om die organiseerders van #Imagine se hande sterk te maak.

Die organiseerders van #Imagine Bela-Bela nooi ook gemeentes en tieners in die omliggende omgewing en dorpe uit om die naweek by te woon.

Die koste beloop R500 per tiener (etes ingesluit). Tieners bring hul eie tente en slaapgoed en sal op die Warries se sportvelde kamp.

Mense wat meer inligting oor die naweek verlang, kan vir Thinus van der Heerver bel by tel. 082 338 5689. Besoek ook die webwerf www.imaginemovement.co.za(.)

Related Articles

Back to top button