Local newsNews

Bekende oud-onderwyser van Thabazimbi sterf

Gerhard (Gert) Schoeman, wat sy loopbaan as onderwyser in 1994 aan Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi begin het, is op Vrydag 28 Februarie in die Unitas-hospitaal in Pretoria oorlede.

Hy het weens ’n aangebore hartdefek reeds vier hartoperasies ondergaan. Schoeman is op Woensdag 26 Februarie in die Unitas-hospitaal opgeneem en het ’n tien uur lange operasie ondergaan om ’n aneurisme wat onlangs gediagnoseer is, te herstel.

Komplikasies het egter tydens die operasie ingetree.

 

Gert Schoeman, bekende oudonderwyser van Thabazimbi, saam met sy vrou, Celia, en hul kinders Wiané, Hardus en HJ.

 

Sowat ’n jaar nadat hy sy loopbaan by Hoërskool Frikkie Meyer begin het, het sy vrou, Celia, ná hul troue by hom aangesluit. Celia is steeds as onderwyser by Hoërskool Frikkie Meyer betrokke.
Gert was in sy 17 jaar in die onderwys nie net as onderwyser in die tegniese afdeling (elektries) bekend nie, maar was ook ’n uithaleratletiek-, hokkie-, krieket en rugbyafrigter en ook organiseerder van hierdie sportsoorte.

Hy het ook op bestuursvlak uitgestaan. Hy was ’n gewilde graadvoog en was departementshoof van tegniese vakke.

Hy het drie jaar gelede die pos as terreinbestuurder by Laerskool Thabazimbi aanvaar waar hy sy ware passie uitgeleef het. Hy het heel dikwels spottend gesê hy het nou “’n werk in die hemel”.

Talle inwoners van die dorp het hom aan Die Pos beskryf as ’n mentor vir menige leerler. Hy het oor die jare met verskeie oudleerders kontak behou en was saam opgewonde oor hul suksesse in die arbeidsmark. Gert sal onthou word as ’n ongelooflike lojale, reguit en betroubare mens.

Sy gedenkdiens was op Vrydag 6 Maart vanuit die Hervormde Kerk Vliegepoort op Thabazimbi.

Hy laat sy vrou, Celia, dogter, Wiané, en seuns Hardus en HJ agter.

Related Articles

Back to top button