Krieketliga eindig op hoë ’n noot
Die spelers van die Nylstroom-krieketklub het op Sondag 1 Maart kragte gemeet met die Limpopo Strikers van Bela-Bela op Nylstroom se goedvoorbereide krieketveld.
Dit was die laaste wedstryd van die Waterberg 50-beurtliga.
Nylstroom het eerste gekolf en 317 lopies vir agt paaltjies aangeteken. Die uitblinkers met die kolf was Adriaan van der Walt met 96 lopies en Janus Neethling, wat 36 lopies van sewe balle af gemoker het. Dit het ses sesse ingesluit. Die uitblinkers met die bal was Andrie Cronjé, wat ses paaltjies platgetrek het vir slegs 36 lopies in sewe boulbeurte en Marius Kruger, wat twee paaltjies geneem het vir tien lopies in twee boulbeurte.
Die Limpopo Strikers kon slegs 97 lopies aanteken en Nylstroom het die wedstryd met 220 lopies gewen.
“Die Nylstroom-krieketklub wil graag vir Wollie Booyse hartlik bedank vir al die tyd en moeite om altyd ’n puik veld en blad voor te berei en ook vir Nastassja Julyan, wat foto’s geneem het,” het Pierre Botha van die klub gesê.
Limpopo Strikers het as wenners uit die liga gestap met 29 punte en Nylstroom was tweede met 24 punte. Die Vaalwater Vikings het nege punte ingesamel en Mahwelereng Vultures het twee punte bymekaar gemaak.
Die 2020 T20-liga skop in Augustus af en oefeninge duur steeds voort.
Enige belangstellendes wat by die Nylstroom-krieketklub wil aansluit, kan vir Buks de Jager bel by tel. 072 661 3726.