Inwoners briesend oor beseerde kat
’n Groep diereliefhebbers van Bela-Bela soek geregtigheid nadat ’n erg beseerde kat op Vrydag 28 Februarie in Gilfillanstraat gevind is.
Graeme Alberts, ’n inwoner, het aan Die Pos gesê hy het by sy bure bewerings gehoor van ’n inwoner wat glo op dié dag ’n kat met ’n graaf geslaan het.
Die beseerde kat is deur die bure gevind waar die dier vasgevang was in een van die gapings van ’n nabygeleë woning se palissadeheining.
Alberts het gesê dr. Marius du Toit, plaaslike veearts, is gekontak. Die kat het glo erg verwilderd voorgekom toe Du Toit opgedaag het.
“Die kat is vir X-strale geneem waarna ’n windbukskoeël in die kat se rugstring ontdek is,” het Alberts gesê. “Die X-strale het ook getoon dat daar beserings aan die linkerkant van die kat se lyf was wat vermoedelik deur die graaf veroorsaak is. Ongelukkig was die kat se toestand só beroerd dat die dier van kant gemaak moes word.”
Alberts sê hy het probeer om ’n klag by die Bela-Bela-polisie te lê, maar daar is aan hom gesê dat die eienaar van die dier self die klag moet lê.
Dit is ingevolge die nasionale vuurwapenwet onwettig om ’n windbuks in ’n woongebied af te vuur en strafregtelike stappe kan teen oorteders gedoen word.
Alberts sê hy sien hierdie voorval in ’n baie ernstige lig, omdat hy en sy gesin se katte ook al deurgeloop het. Hy het gesê hy het self al in die verlede van sy katte met windbukskoeëls in hul lywe na die dierekliniek gebring vir behandeling.
Alberts vra dat die eienaar van die kat hom bel by tel. 083 302 8646.