Local newsNews

Neem gerus die kinders vir ’n uitstappie na dié pragnuwe museum

“So baie kinders in die omgewing kry nooit die geleentheid om ’n museum te besoek nie. Ons hoop dat die Living Museum dit kan verander.”

’n Paar kilometer anderkant Vaalwater, langs die Melkrivier-pad, staan ’n tydmasjien en wag.

Die splinternuwe Living Museum neem besoekers millennia terug in die geskiedenis met uitstallings wat die verbeelding aangryp — skedels van reuse wat eens die aarde bewandel het, foto’s van die eerste winkel in Vaalwater en inligting oor opgrawings wat by die Makapansgrotte net buite Mokopane gemaak is en lig werp op die geskiedenis van die gebied. Buite die Livingstone Lounge hang die reuk van goeie koffie terwyl die sebras en blouwildebeeste rustig verbystap.

Op voetpaadjies tussen Bosveldbome wag ses geboue met uitstallings wat wissel van “Past and Present” met uitbeeldings van meer as 50 spesies wat die afgelope drie miljoen jaar die Waterberge deurkruis het tot “Elephant House” wat die geskiedenis van die olifant, soos wat navorsers uit opgrawings kon uitpluis, vertel.

Die “Anthrosphere” kyk na die vroeë inwoners van die omgewing en invloede op hul ontwikkeling van drie miljoen jaar gelede, “Ancient Africa” gee ’n oorsig van solank terug as 400 miljoen jaar gelede en eindig op ’n hoë noot met die megalodon — ’n monsteragtige, historiese haai wat navorsers vermoed tot 18 m lank was.

Die museum is noukeurig uitgelê deur die bekende omgewingsbewaarder Clive Walker en sy seun, Anton.

“Die oorspronklike Melkrivier-museum is deur die Nel-gesin opgerig en het grootliks op renosters gefokus. Nadat daar ’n grondeis op die plaas was en onderhandelinge om die museum te behou in 2008 misluk het, het ek en my pa onsself beloof dat ons dit weer eendag sal laat herleef om die storie van die Waterberge te vertel,” het Anton gesê.

Dit was egter ’n uitdagende taak omdat fondse vir museums moeilik bekombaar is.

Die museum het in Januarie vanjaar sy deure oopgemaak.

“Ons werk nog aan van die uitstallings, maar die gemeenskap van Vaalwater het aanhou vra dat ons solank ons deure moet oopmaak,” het hy gesê.

Die Walkers het wêreldwyd uitgereik om inligting vir die museum te versamel.

“Veral die Amerikaanse museums was baie gretig om ons te help. Ons het talle lewensgetroue replikas van skedels wat regoor die wêreld opgegrawe is van hulle ontvang.”

’n Mens moet inderdaad mooi kyk om te sien dat dié nie die ware Jakob is nie.

Die “Memory Museum” is volgepak met items en foto’s wat Walker tydens sy bewaringsloopbaan bymekaar gemaak het.

Benewens die uitstallings, beplan die Walkers ook ’n botaniese tuin met medisinale plante waarvan sommiges kritiek bedreig word. Daar sal ook ’n rivieruitstalling wees om aan kinders die verskil tussen ’n skoon rivier en ’n besoedelde rivier te wys.

“So baie kinders in die omgewing kry nooit die geleentheid om ’n museum te besoek nie. Ons hoop dat die Living Museum dit kan verander. Ons wil ook aan buitelandse toeriste die geskiedenis van die Waterberge vertel,” het Anton gesê.

Volgens hom was die Waterberge eens tropies en die diere aansienlik groter. Hy vertel van vlakvarke wat ’n mens amper in die oë kon kyk, enorme seekoeie, wollerige renosters en kontraste-
rend, dwergolifante wat hier voorgekom het.

Ná ’n toer deur die museum kyk ’n mens met ander oë na die bekende Bosveld om jou en wonder oor die stories wat dié berge kan vertel.

Die museum is van Dinsdae tot Saterdag van 09:00 tot 17:00 oop en op Sondae van 09:00 tot 14:00. Toegang tot die Livingstone Lounge, wat ligte etes bedien, is gratis. Daar is ’n ingangsfooi om die museum te besoek. Die museum is 25 km buite Vaalwater op die Melkrivier-pad geleë.

Vir meer inligting, skakel tel. 078 187 7782 of tel. 079 214 7852.

Related Articles

Back to top button