Local newsNews

Slagpale sluit deure ná inspeksie

Die staalhokke staan dolleeg en die hekke is toegetrek.

Die slagpale in Modimolle was teen Dinsdag 3 Maart al 10 dae lank gesluit nadat ’n gesondheidsinspekteur glo bevind het dat hulle nie aan die nodige vereistes voldoen nie.

Raadslid Johann Abrie het in ’n selfoonboodskap inwoners van dié stand van sake ingelig. “Ek is oorval met klagtes van boere en ander mense wat hierdeur geraak word,” het hy gesê.

In sy boodskap sê hy dat die koelkamer nie optimaal volgens die minimum aanvaarbare standaard funksioneer nie, afvalmateriaal soos pensmis en bloed nie van die perseel verwyder is nie en die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit nie meer dienste verskaf nie.

Die slagpale behoort aan die Waterberg-distriksraad.

Marlene van Staden, burgemeester, het bevestig dat die munisipaliteit dienslewering aan die slagpale gestaak het omdat hulle agterstallig is met hul rekeninge.

Volgens Abrie het die gesondheidsinspekteur die werking van die slagpale opgeskort totdat die probleem aangespreek is. Hy het gesê die proses vorder klaarblyklik goed en dat die slagpale eersdaags weer in ’n werkende toestand sal wees.

Werknemers by die slagpale het bevestig dat hulle wag dat die koelkamers herstel word voordat hulle weer kan voortgaan met normale werksverpligtinge.

Nadine Laubscher, ’n raadslid by die distriksraad, het by navraag gesê die gesondheidsinspekteur het bevind hoewel die koelkamer se termostaat die korrekte temperatuur wys, die vleis nie die regte temperatuur was nie. “Wanneer die krag aangeskakel word ná beurtkrag, is daar groot druk op die koelkamer se kompressors, wat dan skade kry. Die koste om herstelwerk te doen, is baie hoog.”

Die plaaslike munisipaliteit het die geel vullishouer verwyder waarin die afval gewoonlik gegooi is om weekliks verwyder te word. Die slagpale se personeel neem dit glo self stortingsterrein toe met een van hul eie voertuie.

Talle sakelui het gesê dat die slagpale eerder geprivatiseer moet word.

Laubscher het bevestig dat dit jare lank reeds nie winsgewend is nie en ’n groot las op die distrik se begroting is.

“Ons het al herhaaldelik probeer om die slagpale te privatiseer, maar sakelui sien nie kans vir die groot werkslas nie — daar is te veel mense en hul salarisse is te hoog. Die geboue is oud en die onderhoudskoste is hoog. In Februarie verlede jaar het die distriksraad ’n besluit aanvaar dat opleiding aan van die werkers gegee word sodat hulle op ander plekke in die distrik aangewend kan word. Daar het egter niks van gekom nie,” het sy gesê.

Teen druktyd het die distriksraad nog nie op navrae reageer nie.

Related Articles

Back to top button